Mensehandelslagoffers in Mianmar moes glo organe verkoop

Argieffoto

ʼn 36-jarige Viëtnamese man wat onlangs uit die kloue van ʼn mensehandelsindikaat in Mianmar bevry is, beweer hy is gedwing om een van sy niere te verkoop nadat hy aan swendelaars verhandel is.

“Talle mensehandelslagoffers word tans teen hul wil in Mianmar aangehou en moet noodgedwonge hul organe verwyder en verkoop indien hulle nie hul finansiële teikens behaal nie,” het ʼn liefdadigheidsorganisasie in Viëtnam Donderdag aan AFP gesê.

“Slagoffers word gedwing om as swendelaars te werk. Indien finansiële teikens nie bereik word nie, word slagoffers blootgestel aan ʼn fisieke straf, meer spesifiek, orgaanverwydering.”

Die slagoffers – van China, Viëtnam en ander lande – word aangesê om burgers van hul eie land te teiken en te oorreed om geld op vals beleggingsplatforms te belê of in ander bedrogskemas te ploeg.

Blue Dragon, ʼn liefdadigheidsorganisasie wat slagoffers van mensehandel in Viëtnam red, sê die bendes stel finansiële teikens vir elke individuele slagoffer.

“As die slagoffer nie ‘hard genoeg gewerk het nie’ dan neem die handelaars organe, soos ʼn nier, van hul slagoffers,” het Michael Brosowski, stigter van Blue Dragon, beweer.

Dié liefdadigheidsorganisasie het in Augustus vanjaar ʼn 36-jarige Viëtnamese man van Mianmar gered wat gedwing is om sy nier te verkoop nadat hy aan misdadigers verkoop is.

“Baie van die slagoffers van Mianmar het uitbuitery op hierdie manier ervaar.”

Volgens die VSA se menseregtekantoor word minstens 120 000 mense in kampe in die Suidoos-Asiatiese land aangehou en word hulle gedwing om as swendelaars te werk en hul landgenote aanlyn te bedrieg.

“Die slagoffers het vasgevang geraak in gevegte wat oor die land se noordelike Shan-staat gewoed het nadat ʼn alliansie van etniese minderheidsgroepe ʼn verrassingsaanval teen die weermag van stapel gestuur het,” sê Caitlin Wyndham, navorsingsleier by Blue Dragon.

Brosowski sê hoewel baie slagoffers vrygelaat is, Viëtnamese slagoffers nie kon terugkeer huis toe nie en nêrens ʼn heenkome gehad het nie.

Viëtnam se departement van buitelandse sake sê sowat 700 Viëtnamese burgers is in Mianmar vasgekeer en dat hulle alles moontlik doen om die slagoffers huis toe bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

Ek wonder wat het geword van daardie twee SA’ners wat in Vietnam onderwys gegee het, en spoorloos verdwyn het, dalk in die web vasgevang is?

Shirley ·

Dis so hartseer om te dink n lewe word aan geld gekoppel vir hul organe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.