Minstens 49 sterf in Colombia-tronk

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Minstens 49 gevangenes is Dinsdag dood en talle beseer toe ʼn brand tydens onluste in ʼn tronk in die suidweste van Colombia uitgebreek het.

Gevangenes wou ʼn brand stig om polisiebeamptes te verhoed om hul deel van die tronk in Tulua te betree, het Tito Castellanos, direkteur van die nasionale gevangenis-instituut (Inpec), gesê.

Hy het aan La W Radio gesê daar was 1 267 gevangenes in dié deel van die tronk waar die oproer plaasgevind het. “Dertig mense is beseer en/of geraak deur die brand en die rook.”

Castellanos sê owerhede stel ondersoek in of die gevangenes moontlik hul matrasse as deel van ʼn ontsnappingspoging aan die brand gesteek het, en of die oproer veroorsaak is “om ʼn ander situasie te verberg”.

Hy het nie bekendgemaak of enige van die gevangenes wel ontsnap het nie.

ʼn Woordvoerder vir Inpec het vroeër aan AFP gesê die dodetal kan moontlik styg. ʼn Berig deur Caracol Radio sê meer as 40 mense is beseer.

Daar was 180 gevangenes in die deel van die tronk waar die brand uitgebreek het.

Castellanos het die pogings van die wagte geloof. Sommige van hulle is beseer toe hulle die brand onder beheer wou bring en gevangenes na veiligheid gebring het. “Sonder hul ingryping sou die situasie baie erger gewees het.”

Die uittredende president Ivan Duque het op Twitter sy meegevoel met die families van die slagoffers betuig. “Ons betreur die gebeure in die tronk in Tulua, Valle del Cuaca,” het hy gesê. “Ek het opdrag gegee dat dié verskriklike situasie opgelos moet word. Ek staan by die families van die slagoffers.”

Colombia se korrektiewe stelsel het kapasiteit vir 97 000 gevangenes, maar dit is oorbevolk met sowat 16 000, aldus Inpec.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.