Minstens 56 burgers reeds dood in Soedan-konflik

ʼn Rookwolk hang oor Khartoem-lughawe (15 April 2023) (Foto: AFP)

Konflik in die Soedannese hoofstad het Sondag in die vroeë oggendure nog gewoed, ʼn dag ná dodelike botsings tussen semimilitêre groepe en die weermag. Minstens 56 mense is dood en sowat 600 beseer.

Ontploffings en geweerskote kon gehoor word in die verlate strate van Khartoem, aldus getuies ná die semimilitêre groepe gesê het hulle is in beheer van die presidensiële paleis, Khartoem-lughawe en ander noodsaaklike fasiliteite.

Die weermag ontken dié bewerings en in ʼn verklaring Saterdagaand het die Soedannese lugmag mense gemaan om binnenshuis te bly terwyl hy voortgaan met lugaanvalle teen basisse van die semimilitêre Rapid Support Forces (RSF).

Vegvliegtuie is vroeër in die lug opgemerk.

Tydens die botsing het ruite vibreer en woonstelgeboue het geskud in talle dele van Khartoem, aldus AFP-korrespondente en ontploffings kon Sondagoggend vroeg nog gehoor word.

“Die getal sterftes onder siviele burgers staan op 56,” het die Sentrale Komitee van Soedannese Dokters, ʼn onafhanklike pro-demokrasiegroep van medici, gesê. Volgens hulle is daar “tien duisende sterftes onder veiligheidsmagte”, maar dit is nie Sondag by die telling ingesluit nie.

Die komitee sê hy het sowat 600 beseerdes getel, insluitend onder die veiligheidsmagte en talle van die pasiënte kan nie na hospitale geneem word nie omdat dit moeilik is om tydens die botsing iewers heen te beweeg.

Saoedi-Arabië se lugdiens Saudia het vroeër gesê een van sy vliegtuie, met passasiers en bemanning aan boord wat gereed was om op te styg, is “blootgestel aan geweerskote” en het skade opgedoen.

Bakry (24), wat in bemarking werk, het gesê inwoners in Khartoem “het nog nooit enigiets soos dié onrus gesien nie”. Dit het ʼn donker rookwolk oor die hoofstad gelaat.

“Mense was angsbevange en het teruggekeer huis toe. Die strate was baie vinnig leeg,” het Bakry bygevoeg. Hy het slegs sy voornaam gegee.

Weke van spanning

Soedan se weermaghoof Abdel Fattah al-Burhan (links) en RSF-bevelvoerder genl. Mohamed Hamdan Daglo (Hemeti) (Foto: Ashraf Shazly/AFP)

Geweld het uitgebreek ná weke van spanning tussen die weermagleier Abdel Fattah al-Burhan en sy adjunk, semimilitêre bevelvoerder Mohamed Hamdan Daglo, oor die beplande integrasie van Daglo se RSF in die gewone weermag.

Die integrasie is ʼn sleutel-element van gesprekke om ʼn ooreenkoms te finaliseer wat die land weer onder siviele beheer sal bring en die politieke-ekonomiese krisis, wat deur die weermag se staatsgreep in 2021 veroorsaak is, tot ʼn einde sal bring.

Die RSF, gevorm in 2013, het uit die Janjaweed-milisie ontstaan wat die voormalige president Omar al-Bashir ontketen het teen nie-Arabiese etniese minderhede in die westelike Darfoerstreek ʼn dekade gelede. Dit het hom beskuldigings van oorlogsmisdade op die hals gehaal.

Antonio Guterres, hoof van die Verenigde Nasies, het versoek dat die “vyandighede onmiddellik gestaak word” en met Egiptiese president Abdel Fattah al-Sisi en Moussa Faki, voorsigger van die Afrika-Unie-kommissie maniere bespreek om die botsing te de-eskaleer.

Hy het ook met Burhan en Daglo gesels en hulle gemaan om “terug te keer na ʼn dialoog”.

Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het ook versoek dat daar na die onderhandelingstafel teruggekeer word.

Clayson Monyela, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse departement vir internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die regering van Suid-Afrika veroordeel ook die konflik wat in Khartoem uitgebreek het.

“Die Suid-Afrikaanse regering versoek vrede en kalmte onder partye wat in die konflik betrokke is, in ooreenstemming met die AU-doelwit om vuurwapens op die vasteland stil te maak.”

Suid-Afrika doen ʼn beroep op die verskillende faksies van die Soedannese weermag om onmiddellik alle konflik te staak en die mense van Soedan teen enige verdere geweld tydens Ramadan te beskerm.

Die regering versoek die Soedannese weermag en RSF om “dadelik terug te keer na die onderhandelingstafel, om saam te stem oor ʼn volhoubare militêre en veiligheidsektor hervormingsprogram as deel van die finale ooreenkoms tot die herstel van ʼn siviele geleide oorgangsregering in Soedan”.

Die Arab League sal na verwagting Sondag ʼn dringende vergadering belê om die situasie in Soedan te bespreek, ná ʼn versoek deur Egipte en Saoedi-Arabië.

Daar was soortgelyke versoeke van Afrika- en Arabiese streeksblokke, die Europese Unie, Frankryk, Italië, Rusland en Iran.

In ʼn onderhoud met Sky News Arabia, gebaseer in die Verenigde Arabiese Emirate, het Daglo, ook bekend as Hemeti, gesê “Burhan die krimineel moet oorgee”.

Hy ontken dat RSF die konflik begin het, ná Burhan in ʼn vorige verklaring aangevoer het hy “was verbaas oor RSF wat sy huis om 09:00 aangeval het”.

Die weermag het op sy Facebook-blad Daglo as ʼn “gesoekte misdadiger” beskryf en die RSF as ʼn “rebelle-milisie” en gesê “daar sal geen onderhandelings of gesprekke wees tot die groep ontbind het nie”.

Die weermag het gesê hy het die lugaanvalle geloods en twee RSF-basisse in Khartoem vernietig. Die weermag het bygevoeg die lughawe en ander basisse bly onder sy “volle beheer” met ʼn foto van swart rook wat glo uit die RSF se hoofkantoor borrel.

Die jongste sterftes kom ná meer as 120 burgers reeds dood is in ʼn poging om pro-demokrasie-betogings hok te slaan.

Gesprekke tussen Daglo en Burhan is al twee keer vertraag sedert ʼn ooreenkoms aangegaan is met siviele faksies wat die weg uiteengesit het om die demokratiese oorgang te herstel wat deur die 2021-staatsgreep ontwrig is.

Tsjad, wat aan Darfoer grens, het gesê hy sluit sy grens oor die “kommerwekkende situasie”.

Daglo het vroeër gesê die staatsgreep was “ʼn fout wat versuim het om verandering teweeg te bring en oorblyfsels van Bashir se regime aangevuur het ná hulle in 2019 ontsetel is”.

Burhan, wat onder Bashir se drie dekades lange bewind deur die range opgang gemaak het, hou vol die staatsgreep was nodig om meer groepe by die politieke proses te betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.