Moenie dat kieme die oorhand kry

hande-water-tiburi-stiltetyd.jpg

(Foto: pixabay/tiburi.com)

Was jou hande en was dit deeglik.

Dit is die pleidooi van die regering aan alle Suid-Afrikaners – en veral nadat hulle die badkamer besoek het, ʼn baba se doek geruil, vullis hanteer of selfs kos voorberei het.

Suid-Afrika se steun aan Wêreldhandewasdag word in ʼn verklaring op die regering se amptelike webwerf verwoord.

Dié wêreldwye inisiatief, wat in 2008 van stapel gestuur is, word jaarliks op 15 Oktober gevier om telkens weer die kollig op dié eenvoudige dog kragtige element van persoonlike higiëne te laat val.

“Wêreldhandewasdag is ʼn jaarlikse instelling wat toegewy is aan die bewusmaking van die belang van hande was met seep as ʼn doeltreffende en bekostigbare manier om die verspreiding van siektes te voorkom.

“Dit is ʼn geleentheid om mense op kreatiewe maniere aan te moedig om hul hande met seep te was,” lui die verklaring.

Claire Bowen van Shower to Shower deel ook ʼn paar praktiese wenke om die eenvoudige kuns van hande was te bemeester:

  • Die 20‑sekonde-reël: Sing “Happy Birthday” twee keer terwyl jy jou hande was. Só sal jy verseker jy was jou hande vir ʼn volle 20 sekondes lank, insluitend tussen jou vingers en onder jou naels.
  • Skuim: Gebruik seep, soos ʼn vloeibare handewasseep soos Fresh Escape van Shower to Shower. Dit klink voor die hand liggend, maar seep maak ʼn reuseverskil.
  • Moenie jou gewrigte vergeet nie: Kieme kan op onverwagte plekke skuil. Maak seker om nie net jou palms en vingers te was nie, maar ook jou gewrigte. Die gewrigte word gereeld misgekyk, maar is ʼn groot sondaar wat kieme oor oppervlakke versprei.
  • Let op jou naels: Ons vingernaels is ʼn broeiplek vir kieme. Neem ʼn paar ekstra sekondes om onder jou naels te skrop met ʼn naelborseltjie of deur jou vingerpunte te gebruik.
  • Warm water: Hoewel koue water die werk gedoen sal kry, kan warm water makliker olies afbreek en kieme verwyder.
  • Afdroog maak saak: Maak jou hande deeglik droog nadat jy dit gewas het, met ʼn skoon handdoek of ʼn lugdroër.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Bowen sê ons moet onsself herinner dat dit nie ingewikkeld hoef te wees om gesonder te leef nie.

“Soms is die kleinste optrede, soos om jou hande te was, die een wat die grootste impak maak op jou welstand.”

Volgens die Centers for Disease Control and Prevention toon navorsing dat sterftes weens siektes wat met diarree verband hou, met 50,3% kan daal sou mense meer gereeld hande was met seep en water.

Navorsers skat ook dat meer as ʼn miljoen sterftes per jaar verhoed kan word sou almal meer gereeld hande was.

ʼn Groot persentasie voedseloordraagbare siektes word versprei deur hande wat besmet is. Hande was kan ook die risiko van respiratoriese siektes soos verkoues onder die breë publiek met tussen 16% en 21% verminder.

Dit kan ook kinders se afwesigheid by skole weens gastroïntestinale siektes met tussen 29% en 57% verminder.

In ʼn vinnige steekproef onder Maroela Media se werknemers, het die meerderheid aangedui dat hulle gereeld hande was op kantoor, met sommige wat sê hulle was hulle hande tot 15 keer per dag.

“Ek was my hande deeglik elke keer as ek die badkamer gebruik het en dan weer baie deeglik wanneer ek in die middag tuiskom,” sê een werknemer.

Die meeste personeellede het ook aangedui dat hulle hande was elke keer voordat hulle kos voorberei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Moet ook nie al wat kiem is as gevaarlik beskou nie, anders loop ons môre almal met snotneuse rond omrede ons geen natuurlike immuniteit het nie. Ken jou kieme.

Alexander ·

Ek dog handewas is deel van een of ander satanistiese ritueel volgens al daai slim mense wat so volop was tydens 2020 :D

Bolandse Nooi ·

Ag nee, genade, ek was miskien hande 2 keer per dag. Ek is nou nie kiem-befoefie-faaid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.