Mosambiekse oudminister dié week aan VSA uitgelewer

Manuel Chang, oudminister van Mosambiek (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, sal vandeesweek aan die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) uitgelewer word.

Chang is gesoek in verband met beweerde bedrieglike lenings aan staatsmaatskappye in Mosambiek. Hy is in Desember 2018 by die Internasionale Lughawe OR Tambo in hegtenis geneem en op versoek van Amerikaanse owerhede aangehou wat hom aan die VSA uitgelewer wou hê.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het bevestig die FBI is in die land en staan gereed sodat Chang aan hulle oorgehandig kan word.

Chang is in die VSA en ook in Mosambiek gesoek vir beweerde sameswering om bedrog te pleeg en omdat hy glo miljoene dollar in omkoopgeld aanvaar het. Die beweerde oortredings hou verband met ʼn $2 miljard-leningskandaal wat ook twee internasionale banke betrek.

Die lenings is vir die Mosambiekse parlement weggesteek, maar die skuld het in 2016 aan die lig gekom, wat skenkers, insluitend die IMF en die Wêreldbank, gevra het om finansiële steun terug te trek.

Chang – wat die lenings afgeteken het en vroeër vanjaar ’n stryd teen uitlewering verloor het – word daarvan beskuldig dat hy die Amerikaanse finansiële stelsel gebruik het om die bedrieglike skema uit te voer.

Die skandaal het Mosambiek se ergste ekonomiese krisis veroorsaak sedert onafhanklikheid van Portugal vier dekades tevore.

’n Onafhanklike oudit het later bevind $500 miljoen is herlei en is nog nie verantwoord nie.

Die landdroshof in Kempton Park het in April 2019 beslis dat Chang aan Mosambiek en die VSA uitgelewer mag word.

Lees die vorige berig oor die saak hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Tredoux ·

Vra jy dit ernstig? Wat verhoed Suid Afrika, met sy top weermag en wapenprogram, om die president van Rusland te arresteer? mmmm…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.