Motor ploeg deur Kersparade

‘n Verlate straat in Waukesha ná die voorval tydens ‘n Kersparade. (Foto: Getty Images via AFP)

Minstens enkele sterftes is aangemeld nadat ’n motor Sondag deur die skare by ’n Kersparade in die Amerikaanse deelstaat Wisconsin geploeg het. Meer as 20 mense, onder wie ook kinders, is tydens die voorval beseer, het die polisie gesê.

Skote is deur ’n polisiebeampte op die motor afgevuur in ’n poging om dit tot stilstand te bring en ’n “persoon van belang” is ná die voorval in aanhouding geneem.

Die voorval het omstreeks 16:30 (plaaslike tyd) tydens die jaarlikse Kersparade in Waukesha, ’n voorstad van Milwaukee, plaasgevind.

“Die Waukesha-Kersparade was aan die gang toe ’n rooi sportnutsvoertuig deur die versperrings gebreek het, weswaarts, in die hoofstraat af,” het die polisiehoof, Dan Thompson, aan verslaggewers gesê.

Thompson het egter nie oor die dodetal uitgebrei nie en gesê geen verdere inligting sal bekend gemaak word voordat die families in kennis gestel is nie.

Volgens die plaaslike brandweerhoof, Steven Howard, is 11 volwassenes en 12 kinders ná die voorval na ses onderskeie hospitale vir mediese behandeling geneem.

Ooggetuies sê die motor het volstoom agter ’n skooloptogorkes by die parade ingejaag gekom.

“En toe hoor ons ’n harde slag, en net die oorverdowende gehuil en gille van mense wat deur die voertuig getref word,” het Angelito Tenorio, wat die parade bygewoon het, aan die Milwaukee Journal Sentinel gesê.

“Al wat ek gehoor het, was ’n geskree en daarna mense wat hul kinders se name uitgeroep het. Dit is al wat ek gehoor het,” het ’n ander getuie, Angela O’Boyle, wie se woonstel ’n uitsig op die parade bied, aan CNN vertel.

Skole en paaie in Waukesha bly Maandag gesluit terwyl die polisie sy ondersoek na die voorval voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dit is ‘n hartseer voorval. Dit lyk my die hele wêreld is besig om mal te raak. Vuurwapens word links en regs gebruik en
geweld, moord is aan die orde van die dag.

Pieter ·

Wonder wat is die motief. Hopelik geen wraak na die Kyle Rittenhouse hofuitspraak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.