Murdaugh hoor sy lot

Alex Murdaugh saam met sy vrou Maggie en seun Paul (Foto: Skermgreep uit Netflix-lokprent)

Alex Murdaugh, ʼn bekende prokureur van Suid-Carolina in die VSA, is Vrydag lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op sy vrou en seun op hul landgoed.

Regter Clifton Newman het die 54-jarige Murdaugh, deel van ’n elite-familie van regters en prokureurs, aaneenlopende lewenslange vonnisse opgelê op aanklag dat hy sy vrou Maggie met ‘n aanvalsgeweer en seun Paul met ‘n haelgeweer doodgeskiet het.

Die saak het wêreldwyd aandag getrek met ʼn dokumentêre reeks oor die gesin wat tans baie gewild op Netflix is.

Newman het Murdaugh se verklarings dat hy onskuldig is, as “nie geloofwaardig nie” beskryf. Hy het gesê Murdaugh “moet Paul en Maggie sien in die aand wanneer hy probeer slaap”. “Ek is seker hulle kan jou kom besoek.”

ʼn Jurie in Walterboro, Suid-Carolina, het Murdaugh Donderdag skuldig bevind ná hulle slegs drie ure daaroor geredekawel het.

Die jurie het gehoor Murdaugh het sy vrou en seun op 7 Junie 2021 vermoor nadat hy besef het dat sy jarelange plundertog van miljoene dollars van sy prokureursfirma en van kliënte om sy verborge opioïedverslawing te betaal, op die punt was om bekend te word.

Terwyl bewyse Murdaugh kort voor die moorde op die toneel geplaas het, is die moordwapens nooit gevind nie, en daar was geen bloedbevlekte klere of ander direkte bewyse wat kon bewys dat hy die moordenaar was nie.

Murdaugh, geklee in ʼn khakikleurige oorpak en met sy hande en voete in boeie, het die hof vlugtig toegespreek tydens sy vonnisoplegging. “Ek is onskuldig. Ek sou nooit my vrou Maggie seergemaak het nie. En ek sou nooit my seun Paw Paw seergemaak het nie,” het hy gesê terwyl hy sy seun se bynaam gebruik het.

Murdaugh het self in die getuiebank verskyn en beskryf hoe hy op sy vrou en seun se liggame by die hondehokke afgekom het. Hy het erken dat hy gesteel en geld verduister het, en dat hy gejok het oor sy dwelmmisbruik – wat volgens prokureurs sowat $50 000 per week gekos het, maar het gesê hy sal nooit lieg oor die moord op sy gesin nie.

Volgens Murdaugh se prokureur het die ondersoekbeamptes versuim om ander moontlike verdagtes te ondersoek, insluitend Murdaugh se dwelmhandelaars en die mense wat woedend was oor Paul se betrokkenheid by die afsterwe van ʼn tienermeisie in Februarie 2019 tydens ʼn bootongeluk.

Staatsaanklaer Waters het Murdaugh ʼn “meester-leuenaar” genoem wat geld gesteel het van ʼn kreupele kliënt, van die familie van ʼn voormalige skoonmaker wat haar jare gelede dood geval het, en van sy vennote by die regsfirma.

Waters het gefokus op Murdaugh se leuens aan ondersoekbeamptes die aand van die misdaad dat hy nooit by die hondehokke was voor hy op die liggame afgekom het nie.

ʼn Video op Paul se selfoon het egter gewys Murdaugh was daar ongeveer vyf minute voor die skietery.

“Almal wat gedink het hulle weet wie hy is – hy het hulle om die bos gelei,” het Waters gesê. “Hy het Maggie en Paul ook om die bos gelei, en hulle het met hul lewens geboet.”

Die Netflix-dokumentêr oor die invloedryke familie het Amerikaners en kykers oor die wêreld heen geboei. Dit skets ʼn prentjie van ʼn familie wat hul mag misbruik het en betrek word by verskeie moorde. Dit sluit onder meer in die dood van die gesin se huiswerker en ʼn jong man wat dood in die pad gevind is.

Die gesin se ondergang het in 2019 begin toe Paul aangekla is in verband met ’n bootongeluk wat ’n 19-jarige vrou se lewe geëis het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.