Museumdief (79) net vir een nag tronk toe

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn 79-jarige wapendief is vandeesweek tot een dag tronkstraf gevonnis nadat hy talle historiese artefakte, waarvan meestal antieke wapens, tydens die jare 60 en 70 in die vorige eeu gesteel het.

Sy verweer is eenvoudig: Hy hou daarvan om ou goed te versamel.

Thomas Gavin van die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië is in 2018 eindelik in hegtenis geneem toe hy probeer het om ʼn seldsame geweer te verkwansel wat dateer uit die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog.

“Ek is jammer vir al hierdie moeilikheid,” het die nou bejaarde man Dinsdag in die hof gesê. “Ek het destyds nooit regtig daaraan gedink nie, en nou het dit alles uitgekom.”

Gavin, wat sedertdien aan ʼn rolstoel gekluister is, het in Julie skuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die verkwansel van ʼn voorwerp van kulturele erfenis wat uit ʼn museum gesteel is.

Die Amerikaner het as deel van sy pleitooreenkoms onder meer erken dat hy in 1971 ʼn antieke geweer, wat in 1775 deur ʼn meesterwapensmid vervaardig is, uit die Valley Forge State Park Museum gesteel het.

Dié Christian Oerter-geweer is een van slegs twee van sy soort wat steeds oor die oorspronklike vuursteenmeganisme beskik waarop die vervaardiger se naam, plek en datum van vervaardiging verskyn.

Die geweer is tans meer as  $175,000 (sowat R2,7 miljoen) werd.

Die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) het Gavin opgespoor nadat hy in Julie 2018 probeer het om die geweer en ander gesteelde items aan ʼn oudhedehandelaar te verkoop.

Die handelaar het later aan verslaggewers gesê hy het besef die geweer is gesteel nadat hy opgemerk het dat daar in ʼn 1980-boek, geskryf deur ʼn antiekegeweerdeskundige, na die betrokke vuurwapen verwys word.

“Om ʼn artefak uit ʼn museum te steel – letterlik ʼn stuk Amerikaanse geskiedenis – is ʼn ernstige federale oortreding,” het die Amerikaanse prokureur, Jennifer Arbitter Williams, in die hof aangevoer.

“Geregtigheid het hierdie beskuldigde ná vier dekades uiteindelik ingehaal.”

Die regter het egter daarop gewys dat die verjaringswet op baie van die gesteelde artefakte reeds verval het, terwyl baie daarvan minder werd is as die $5 000-drempel wat nodig is vir federale aanklagte.

Gavin is deur sy regsverteenwoordiger beskryf as “ʼn versamelaar van allerhande ou goed” wie se skuur “vol” antieke oudhede is.

“Of hy nou as ʼn versamelaar of ʼn opgaarder beskou word, wins was nie sy motivering nie.”

Gavin is benewens sy dag agter tralies tot een jaar huisarres gevonnis en ʼn boete van $25 000 (sowat R395 000) opgelê.

Bronne: BBC, Philadelphia Inquirer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

madels ·

Ag ou oompie.. daar is seker nie meer soveel jare vir jou op die aarde oor nie. Hopelik sal jy nou in vrede leef met al jou oudhede en nie weer n onbesonne ding doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.