Musikant stort ineen op verhoog

Die musikant Carlos Santana. (Foto: Facebook / Carlos Santana / Geneem deur Erik Kabik)

Die kitaarlegende Carlos Santana het Dinsdagaand tydens ’n vertoning naby Detroit in die VSA op die verhoog inmekaargesak.

Die 74-jarige musikant het by die Pine Knob-musiekteater in Clarkston, Michigan, opgetree toe die voorval plaasgevind het. Hy is kort daarna na ʼn hospitaal geneem vir observasie en sterk luidens berigte goed aan.

Santana se bestuurder, Michael Vrionis, het in ʼn verklaring aan CBS News gesê dat Santana Dinsdagaand aan “hitteuitputting en dehidrasie” gely het.

“Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir observasie en dit gaan goed met hom.” Vrionis het nie aangedui hoe lank Santana in die hospitaal was nie.

Sy vertoning wat Woensdagaand in Burgettstown in Pennsylvania sou plaasvind, is intussen uitgestel.

Santana is tans op sy “Miraculous Supernatural”-toer.

NBC News berig dat Santana nog 21 vertonings as deel van dié toer tot aan die einde van Augustus oor het, voordat hy na Las Vegas terugkeer om vir ʼn vertoning daar voor te berei.

Dié nuusblad het vroeër berig dat Santana in Desember verlede jaar verskeie vertonings in Las Vegas moes kanselleer nadat hy ʼn onbeplande hartprosedure moes ondergaan. Die aard van die prosedure is nie bekendgemaak nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Hy was op Woodstock . Nie veel wat nog leef kan eers regop staan nie . Sterkte ou bul .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.