Musk sê Twitter hou data terug, dreig om te onttrek

Elon Musk (Foto: Ryan Lash / TED Conferences, LLC / AFP)

Elon Musk het Maandag gedreig om sy aanbod om Twitter te koop te onttrek. Hy beskuldig die maatskappy daarvan dat hy versuim om inligting oor vervalste profiele te verskaf. Dit is die jongste wending in die Tesla-miljardêr se poging om dié sosiale netwerk te koop.

Twitter het “ʼn klaarblyklike breuk gepleeg in sy verpligtinge in die ooreenkoms” en Musk “behou die reg voor om nie met die transaksie voort te gaan nie”, aldus ʼn dokument wat by reguleerders ingedien is.

Dit volg ná Musk se vorige uitlatings oor vervalste profiele by Twitter as ʼn bedreiging vir sy aanbod van $44 miljard om Twitter oor te neem. Musk sê die getal botte kan vier keer hoër wees as Twitter se beramings. Botte kan op sosiale media gebruik word om vals nuus te versprei of om ʼn wanpersepsie te skep oor hoe inligting verbruik of gedeel word.

Parag Agrawal, uitvoerende hoof van Twitter, het gesê minder as 5% van aktiewe profiele op enige gegewe dag is botte, maar die analise kan nie ekstern gedupliseer word nie, weens die behoefte om gebruikers se data privaat te hou.

Musk het Twitter se reaksie verwerp en Maandag sy standpunt benadruk.

Aldus die dokumente moet Musk “ʼn volledige en akkurate begrip hê van die kern van Twitter se besigheidsmodel en sy aktiewe gebruikersdatabasis” om met die transaksie te kan voortgaan.

“Mnr. Musk glo Twitter weier om te voldoen aan sy verpligtinge onder die ooreenkoms. Dit wek die indruk dat die maatskappy die vereiste data terughou uit kommer vir wat mnr. Musk se eie analise van die data sal onthul.”

Twitter se aandele het met 3,6% gedaal tot $38,70.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

As ek Musk was los ek die spul. Skoenmaker hou jou by jou lees… wat reeds uiters omvangryk is en selfs tot by die sterre reik. Begin dalk eerder iets soos ‘n koerant (hoop ek spel dit reg) uitgee. Ons kan doen met substansie en waarheid vir ‘n slag.

VaalDonkie ·

Twitter se aandeleprys gaan verder daal as dit so aangaan. Ons moet maar net wag en sien wie knip eerste die ogies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.