Ná 500 dae kom bergklimmer uit ondergrondse grot

Spaanse sportvrou Beatriz Flamini (regs) omhels ʼn familielid toe sy ná 500 dae uit die grot in Los Gauchos naby Motril gekom het (14 April 2023) (Foto: Jorge Guerrero/AFP)

ʼn 50-jarige Spaanse bergklimmer het Vrydag uit ʼn ondergrondse grot gekom waar sy 500 dae in afsondering geleef het as deel van ʼn eksperiment oor die effek van isolasie op die menslike liggaam.

Beatriz Flamini het ʼn donker sonbril gedra toe sy lede van haar familie omhels het wat haar verwelkom het buite die grot naby Motril in die suide van Spanje.

“Ek het vir ʼn jaar en ʼn half lank met niemand anders buiten myself gepraat nie,” het die ervare bergklimmer aan verslaggewers gesê. Sy het die ervaring as “uitstekend, ongeëwenaard” beskryf.

Sy het op 21 November 2021 met haar uitdaging begin – net voor Rusland Oekraïne beset het en die wêreld nog in die greep van die Covid-19-pandemie was.

Sy het 70 meter onder die grond gebly, buiten vir ʼn week toe sy gedwing was om die grot te verlaat omdat ʼn internetversener, wat haar in staat sou stel om in ʼn noodgeval hulp te ontbied, onklaar geraak het.

Terwyl die probleem opgelos is, het sy in isolasie in ʼn tent gebly, het sy en lede van haar span aan die dagblad El Pais en ander Spaanse media gesê.

Spaanse sportvrou Beatriz Flamini, omring deur spanlede, hou ʼn koerant vas toe sy ná 500 dae uit die grot in Los Gauchos naby Motril gekom het (14 April 2023) (Foto: Jorge Guerrero/AFP)

“Ek het nie geweet wat in die wêreld gebeur nie. Vir my is dit nog steeds 21 November 2021,” het sy aan verslaggewers gesê.

Flamini sê sy het met behulp van kunsmatige lig baie gelees, oefeninge gedoen en wolmusse gebrei.

ʼn Tegniese span het haar deurgaans gemonitor en kos by ʼn punt in die grot gelos sonder om met haar kontak te maak.

Flamini het twee kameras by haar gehad om die ervaring te verfilm en dit sal in ʼn dokumentêre fliek gebruik word deur die Spaanse maatskappy Dokumalia.

“Daar was al talle soortgelyke uitdagings, maar nog nie een waar al die reëls gestel is nie,” het David Reyes van die Andalusiese Federasie van Spelonkkunde, gesê. Dié organisasie was in beheer van Flamini se veiligheid. Volgens dié reëls moes sy alleen wees en in totale isolasie, sonder kontak met die buitewêreld, sonder (natuurlike) lig en sonder enige verwysing na tyd, het hy aan verslaggewers gesê.

Volgens Hector Gomez, Spaanse minister van toerisme, was dit ʼn “uiterste uithoutoets” en hy hoop dit sal “van groot waarde wees” vir wetenskap.

Flamini sê een van die moeilikste oomblikke was toe vlieë in die grot ingetrek het, maar sy het nooit eers oorweeg om die uitdaging te laat vaar nie.

“Daar was moeilike oomblikke, en dit is waar dat daar ook baie mooi oomblikke was, en albei het dit vir my moontlik gemaak om vol te hou. Ek het goed oor die weg gekom met myself.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.