Ná twee jaar is dit weer ‘tjorts’ op Iere se St. Patrick

Argieffoto ter illustrasie van St. Patrickdag. (Foto: Patrick Fore/Unsplash)

Duisende Iere sal Donderdag weer St. Patrickdag vier nadat die Covid-19-pandemie dié feesviering twee jaar lank gedemp het.

St. Patrickdag kon nie in 2020 óf verlede jaar in Ierland gevier word nie weens die verbod op groot byeenkomste, internasionale reis en kuierplekke wat gedwing is om hul deure te sluit.

Die land het egter in Januarie sy afsonderingsregulasies opgehef waarna die organiseerders van St. Patrickdag gespring het om te verseker dat vanjaar se parade deur die strate van Dublin groter en beter as ooit sal wees.

“Dit gaan Ierland se heropeningsoomblik wees,” sê die tussentydse direkteur van die St. Patrickfees, Anna McGowan.

Argieffoto ter illustrasie van St. Patrickdag. (Foto:
Amanda Marie/Unsplash)

McGowan se span moes vanjaar se fees binne twee maande reël nadat dit vroeër jare 18 maande se beplanning geverg het. “Dit was een van die mees intense beplanningsperiodes wat hierdie fees nóg gesien het,” erken McGowan.

Sowat 400 000 toeskouers en 3 000 deelnemers word vandag by die parade verwag. Altesame 250 kontrakteurs was betrokke by die voorbereiding van die roete en die oprig van verhoë.

Die stadsraad van Dublin het vanjaar baniere van blou en geel – die amptelike kleure van Oekraïne –  op die lamppale al langs die paraderoete, wat gewoonlik op St. Patrickdag in groen getooi is, geplaas.

Die Oekraïense nasionale vlag sal ook op sommige plekke die Ierse vlag vervang.

Feesgangers word aangemoedig om items soos Oekraïense vlae saam te bring in solidariteit ná Rusland se inval van Oekraïne.

‘Besigste dag van die jaar’

The Temple Bar-kroeg in Dublin. (Foto: Diogo Palhais/Unsplash)

The Temple Bar-kroeg in Temple Bar, Dublin, staal hom vir sy besigste dag van die jaar.

“Sodra die deure oopgaan, gaan daar net ʼn vloed van mense en ʼn wonderlike atmosfeer wees,” sê kroegman Andrew Roche.

Roche verwag dit gaan “die grootste St. Paddy’s-dag in ʼn lang tyd” wees.

Die Dublin-lughawe verwag dat 800 000 passasiers vanaf 12 Maart tot 24 Maart na Ierland gaan reis as deel van die land se 12 dae lange St. Patrickdag-tydperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Gee gas en “tjorts” daarop. Vergeet van maskers, sanitasie en inentings en geniet dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.