Nadal: Perfeksie op ’n kleibaan

Nóg ’n trofee in Parys vir Rafael Nadal. Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP.

Daar staan reeds ’n Rafael Nadal-standbeeld in Parys; dalk is dit tyd om een van die hoofbane op Roland-Garros na hom te vernoem.

Want die “koning van klei” het vanmiddag sy 14de Franse Ope-titel gewen toe hy vir Noorweë se Casper Ruud met 6-3, 6-3 en 6-0 oorrompel het.

Die Spanjaard, wat Vrydag sy 36ste verjaardag gevier het, is nou die oudste kampioen nóg in die Franse hoofstad, terwyl hy ook sy 22ste Grand Slam-titel ingeoes het – twee meer as Roger Federer en Novak Djokovic.

O ja, dit is ook die eerste keer in sy roemryke loopbaan dat hy die Australiese Ope én die Franse Ope in dieselfde jaar gewen het.

In vandag se eindstryd het hy vir Ruud – ’n hoog aangeskrewe kleibaanspeler – heeltemal oorheers.

Nadal het al sy toertjies uitgestal en die jong Noorweegse speler se wedstrydplan het heeltemal by die stadionvenster uitgewaai soos wat hy probeer het om die ervare Spanjaard in sy spore te stuit.

’n Onbegonne taak.

Die kleibaankampioen het die krane laat in die wedstryd oopgedraai om die beslissende stel in 30 minute te beklink.

“Vir my is die Franse Ope die beste toernooi in die hele wêreld. Van die organiseerders tot die baljoggies laat ’n mens tuis voel,” het ’n glimlaggende Nadal tydens die trofee-seremonie gesê.

“Ek wil ook my span en familie bedank, sonder julle sou niks moontlik gewees het nie. Dit is moeilik om my emosies te beskryf; ek het nooit gedink dat ek op 36-jarige ouderdom hier sal kan staan en steeds mededingende tennis speel nie. Ek weet nie noodwendig wat die toekoms vir my inhou nie, maar ek sal aanhou veg,” het hy onder luide applous gesê.

’n Mens kan ná vandag se aksie beslis met Martina Navratilova (wenner van 18 Grand Slam-titels) saamstem toe sy destyds gesê het dat mense nog boeke oor Nadal se loopbaan sal skryf.

Sy Franse Ope-storie sorg dalk, net dalk, vir nog ’n sukseshoofstuk in die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thom ·

Die beste mansspeler ooit en ‘n ware sportman. Sy rekord in die top-drie verdwerg die van die ander grotes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.