Nadal uit Wimbledon oor besering

Rafael Nadal. (Foto: Twitter.)

Rafael Nadal het Donderdag met ’n buikbesering hom aan Wimbledon onttrek. Volgens die tennisster sal dié besering sowat vier weke duur om te genees, hoewel hy al oor ʼn week weer sal kan begin oefen.

Nadal se besluit sal die Australiër Nick Kyrgios ’n plek in die manseindstryd gee.

Kyrgios, wat 40ste op die ranglys geplaas is, sal óf teen die topgekeurde en sesmalige kampioen Novak Djokovic óf die Britse negende gekeurde Cameron Norrie speel wat Vrydag in die oorblywende halfeindstryd teen mekaar te staan kom.

Nadal het Woensdag sigbaar pyn gehad tydens sy uitmergelende oorwinning van vyf stelle oor die Amerikaner Taylor Fritz. Hy het daarna aangedui dat hy dalk nie sal kan voortgaan nie.

Die Spaanse sportdagblad Marca het berig dat Nadal ’n skeur van 7 mm aan ʼn buikspier opgedoen het, maar steeds van plan was om te speel. Die 36-jarige speler het egter Donderdagaand tydens ʼn nuuskonferensie by die All England-klub bevestig dat hy gaan onttrek.

“Ek is ongelukkig hier omdat ek my aan die toernooi moet onttrek,” het Nadal Donderdagaand gesê.

“Soos almal gister gesien het, het ek ʼn pyn in my buik gehad en dat iets nie reg was daar nie. Daar is intussen bevestig dat daar ʼn skeur in ʼn spier is.”

Die tweedegekeurde speler het dwarsdeur sy wedstryd teen Fritz, wat 11de gekeur is, gesukkel, maar het steeds daarin geslaag om ’n oorwinning van 3-6, 7-5, 3-6, 7-5, 7/6 (10/4) binne vier uur en 21 minute te behaal.

Die 22-malige Grand Slam-kampioen het pynverligting tydens die wedstryd gekry en het ’n mediese breek in die tweede stel gehad. Hy sê sy pa en suster het aan hom beduie om op te hou.

Hy het Donderdag nog op Wimbledon geoefen voordat hy later die aand sy onttrekking aangekondig het.

Die Spanjaard, wat die afgelope week ’n probleem met sy buikspiere gehad het, het erken hy het heeldag met sy besluit gestoei.

Nadal was nog op koers om al vier major-toernooie in dieselfde jaar te wen nadat hy vroeër die Australiese Ope gewen het voordat hy ’n 14de Franse Ope-kroon ingeoes het.

Die laaste speler wat dié prestasie behaal het, was die Australiër Rod Laver in 1969.

Nadal het egter gesê hy wil sy gesondheid eerste stel, uit kommer dat die besering net sal vererger indien hy aanhou speel.

Volgens Nadal het hy die besluit geneem omdat hy glo hy nie twee wedstryde in dié omstandighede sou kon wen nie.

“Ek kan nie dien nie.”

Nadal het by die Franse Ope met erge voetpyn gesukkel, maar is ná behandeling toegelaat om aan die Wimbledon-toernooi deel te neem.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.