Namibië se president sterf

Namibië se president, Hage Geingob (82), is Sondagoggend dood. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Namibië se president, Hage Geingob, is vroeg Sondagoggend in die Lady Pohamba-hospitaal in Windhoek dood. Hy was 82 jaar oud.

Geingob, wat ten tyde van sy dood in sy tweede termyn as president gedien het, het verlede maand onthul dat hy vir kanker behandel word. Dié aankondiging het gekom nadat “kankerselle” tydens ʼn roetine‑ mediese ondersoek by die president aangetref is, waarna hy vir ʼn biopsie gegaan het.

Geingob het die afgelope jare verskeie gesondheidsuitdagings gehad, en het in 2013 ʼn breinoperasie ondergaan. Hy het ook verlede jaar aorta-chirurgie in Suid-Afrika ondergaan.

Luidens ʼn verklaring deur die presidensiële kantoor het Geingob se mediese span alles in hul vermoë gedoen om die president se lewe te red. Hy het egter kort ná middernag beswyk, met sy vrou, Monica Geingos, en sy kinders aan sy sy.

Geingob, wat die eerste keer in 2014 tot president verkies is, was Namibië se langsdienende premier en derde president. Hy was ook dié Suider-Afrikaanse land se eerste president buite die Ovambo-etniese groep, wat meer as die helfte van die land se bevolking uitmaak.

“Die Namibiese nasie het ’n vooraanstaande dienaar van die mense, ʼn vryheidstryd-ikoon, die hoofargitek van ons Grondwet en die pilaar van die Namibiese huis verloor,” het dr. Nangolo Mbumba, waarnemende president, gesê.

“In hierdie oomblik van diepe hartseer doen ek ’n beroep op die nasie om kalm en beheers te bly terwyl die regering aandag aan alle nodige staatsreëlings, voorbereidings en ander protokolle gee.”

Volgens Mbumba sal die kabinet Sondag dringend in dié verband vergader.

Pres. Cyril Ramaphosa het Geingob se dood intussen betreur, en sy meegevoel aan Geingob se naasbestaandes, die kabinet en land uitgespreek.

“Vandag treur Suid-Afrika saam met die mense van ons susterstaat Namibië oor die heengaan van ’n leier, patriot en vriend van Suid-Afrika,” het Ramaphosa Sondag gesê.

“Ons gedagtes en gebede is by die Geingob-familie en die mense van Namibië wat ’n uitmuntende leier verloor het in ’n jaar waarin Namibië, soos Suid-Afrika, verkiesings moet hou.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.