Namibiese wedren: ‘Swoeg en sweet die moeite werd’

Irene Steyn (44) van Windhoek het die vroue-afdeling gewen (Foto: Verskaf)

Deelnemers van die Nedbank Desert Dash-bergfietswedren, die langste eenskofresies ter wêreld, sê hulle wou telkemale gedurende die wedren handdoek ingooi. Ná honderde kilometers en stywe bene is hulle egter nie spyt dat hulle deurgedruk en die wedren voltooi het nie.

Jaarliks neem ʼn paar fietsryers ook aan die wedren deel as deel van die Legacy of Love-inisiatief – waar deelnemers die wedren aflê ter gedagtenis aan ʼn geliefde wat aan die dood afgestaan is.

Dit was die 16de jaar wat die Desert Dash-bergfietswedren in Namibië plaasgevind het. Sowat 1 000 deelnemers het 393 km – van Windhoek tot Swakopmund – in 24 uur afgelê. Al die deelnemers moes vooraf ʼn Covid-19-toets slaag om te kon deelneem.

Die wedren geskied boonop in die woestynlandskap en hoewel dit vanjaar nie so warm soos ander jare was nie, was die wind vir deelnemers ʼn doring in die vlees.

Irene Steyn (44) van Windhoek –  wat die vroue-afdeling met ʼn eindtyd van 19:25:43 gewen het –  vertel sy wou al in die eerste 100 km handdoek ingooi. Dit is die vierde jaar dat sy in dié wedren op die podium geëindig het.

“Jy kan maklik moedeloos word, veral in die eerste 100 km. Dit is dan wanneer jou kop met jou speletjies speel en jy dink dat dit nie so erg sal wees indien jy nou opgee nie. Maar mense langs die pad praat jou weer moed in en dan kry jy ʼn tweede asem om aan te gaan,” vertel Steyn.

Steyn neem nou al vir vyf jaar aan die wedren deel. Sy het twee keer die solo-wedren van die vroue-afdeling gewen.

Volgens Steyn is die Desert Dash die verste wedren wat sy al aangepak het en begin sy in September reeds vir hierdie uitdaging oefen.

Irene Steyn en Mannie Heymans, een van die organiseerders van die wedren (Foto: Verskaf)

“Ek oefen regdeur die jaar en probeer fiks bly. Ek is nog van altyd af lief vir sport en het al saam met my man aan verskeie wedrenne deelgeneem. Ek doen graag sport as deel van ʼn gesonde leefwyse wat ek saam met my gesin kan geniet.”

Anri Parker (51) – wat tweede plek in die vroue-afdeling behaal het – vertel hoe sy ʼn vreemdeling se waterbottel langs die pad opgetel en daaruit moes drink omdat sy haar waterbottel langs die pad verloor het.

“Ek het geswig van die dors en was desperaat. Dit was warm en die wind was sterk,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ek wou tien keer in die eerste uur ophou trap, maar ek sê altyd vir my kinders mens gee nie op nie, so toe ry ek nog ʼn ent.”

Parker het ten spyte van die uitdagings ʼn eindtyd van 20:07:23 behaal. Dit is die vierde keer wat sy aan die solo-wedren deelneem.

“Die lekkerste gedeelte is die laaste kilometer wanneer jy die see kan sien en ruik en weet alles was die moeite werd.”

Anri Parker (51) het tweede plek in die vroue-afdeling behaal (Foto: Verskaf)

Volgens Steyn en Parker is hul bene styf, maar is hulle is klaar weer gretig om op ʼn fiets te klim.

Ben Saayman van Windhoek, ʼn deelnemer, vertel die psigiese speel net so groot rol as die fisieke in die wedren.

“Jy moet jouself druk verby die punt waar jy dink jy nie meer kan nie en dan is daar nog ʼn lang pad om te gaan,” vertel Saayman.

Volgens Saayman is die hoogtepunt van die wedren hoe almal mekaar langs die pad help en ondersteun. “Ons kuier gewoonlik lekker by die waterpunte.”

Volgens Danie van Aswegen sal die sterre in die aand, die rooi liggies van sy mede-fietsryers, die gees, ondersteuners en die maanlandskap altyd by hom bly.

Danie van Aswegen by die eindstreep (Foto: Verskaf)

Legacy of Love

Vanjaar het sowat 48 deelnemers gery ter gedagtenis aan geliefdes wat 50 gesinne weens Covid-19 verloor het.

Parker het vir ʼn vriendin wat al twee haar ouers aan Covid-19 verloor het, gery.

Legacy of Love is in 2017 deur die egpaar Ronel en Sybrand de Beer begin nadat hulle hul 11-jarige dogter weens akute respiratoriese sindroom verloor het. Die inisiatief is begin om ander ouers wat ook kinders verloor het, te bemoedig en inspireer.

Ronel en Sybrand de Beer (Foto: Verskaf)

Van Aswegen en sy vrou, Nantie, het vanjaar ook vir Legacy of Love gery.

Volgens Nantie het hulle voor die wedren ʼn seremonie bygewoon waar eer aan die oorledenes betoon is. Elke gesin vir wie die fietsryers gery het, het ook tydens die wedren ʼn kers aangesteek vir die geliefdes wat hulle verloor het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
jeff

Die vrou wat tweede plek in die vroue-afdeling was, het van ‘n vreemdeling se water bottle gedrink. In Afrika. Tydens daar ‘n pandemie aangaan is. Daai is een taai boermeisie daai.