Nege sterf toe storms Australië tref

‘n Nooddienswerker soek na oorlewendes by die Buchan-kampterrein, oos van Melbourne, nadat ‘n kitsvloed die gebied getref het. (Foto: Victoria-polisie/AFP)

Reddingspanne het Woensdag verder gesoek na oorlewendes terwyl nege mense dood is in woeste storms aan die Australiese Ooskus. Die slagoffers sluit in ʼn 40-jarige vrou wat in stormwaterdrein beland het.

Donderstorms en verwoestende wind het die afgelope paar dae in die state Victoria en Queensland gewoed. Bote het omgeslaan, daar was kitsvloede en kraglyne is omgetrek.

Die staatsbeheerde weerdiens het gewaarsku dat kusgebiede in Queensland steeds nie buite gevaar is nie weens “gevaarlike” storms, “lewensgevaarlike” oorstromings”, “reusehael” en “verwoestende” wind.

Drie vroue is tot in ʼn stormwaterdrein meegesleur toe vloedwater Dinsdag deur die landelike dorp Gympie, sowat 180 km noord van Brisbane, geswiep het.

Polisieduikers het die liggame van twee vroue gevind en ʼn derde het oorleef nadat sy op die oewer van ʼn nabygeleë rivier uitgespoel het

Elf mense het ook in die see beland toe ʼn boot naby Brisbane omgeslaan het. Drie van hulle het verdrink en nog agt is uit die water gered en na ʼn hospitaal gehaas.

“Weens die weer was dit ʼn baie tragiese 24 uur,” het Katarina Carrol, polisiehoof, gesê.

Die liggaam van ʼn negejarige meisie is gevind nadat sy aan die buitewyke van Brisbane in vloedwater beland het en vermis was. In nog ʼn voorval is 59-jarige vrou dood toe ʼn boom aan Queensland se Gouekus op haar geval het.

Die nutsdiensmaatskappy Energex sê hy doen alles moontlik om kragtoevoer na meer as 80 000 huishoudings in die staat te herstel.

“Hoe sterk was die storms? Sterk genoeg om verskeie betonpale wat hoëspanningsdrade ondersteun te knak,” het die maatskappy op sosiale media gesê.

In Victoria is die liggaam van ʼn vrou laat Dinsdagaand gevind nadat kitsvloede ʼn kampterrein in Buchan, sowat 350 km oos van Melbourne, getref het.

ʼn Man is ook dood nadat ʼn boomtak in Caringal, 180 km oos van Melbourne, op hom geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.