Negende oorlewende uit puin van China-gebou gered

Reddingswerkers op die toneel van die ineengestorte gebou in China. (Foto: CNS / AFP)

Vier dae nadat ’n gebou in China ineengestort het, is nóg ’n vrou lewend uit die puin gehaal. Die vrou was by haar volle positiewe en kon glo deur ʼn klein gaatjie in die puin met reddingswerkers praat voordat sy eindelik gered kon word.

Die reddingspoging word deur Chinese staatsmedia as ’n wonderwerk bestempel terwyl daar onverpoos na nóg oorlewendes gesoek word.

Die Chinese staatsuitsaaier CCTV het Dinsdag beeldmateriaal uitgesaai van ʼn vrou, op ’n draagbaar toegedraai in ʼn dik gestreepte kombers, nadat sy uit die puin van die ineengestorte gebou in Changsha, Hunan, gehaal is.

Die vrou is die negende oorlewende nadat die gebou, wat ʼn hotel, woonstelle en ʼn fliekteater gehuisves het, Vrydag ineengestort het.

“Ons sien uit na nog wonderwerke,” het CCTV intussen op sy amptelike sosialemediablad geskryf.

Reddingswerkers op die toneel van die ineengestorte gebou in China. (Foto: CNS / AFP)

Daar is bevestiging dat minstens 14 mense nog in die puin vasgekeer is terwyl 39 mense vermis word.

Maroela Media het vroeër berig nege mense – onder wie die gebou se eienaar en ’n span veiligheidsinspekteurs – is Sondag in verband met die ongeluk in hegtenis geneem. Daar word beweer dat inspekteurs ’n veiligheidsoudit van die gebou vervals het.

Die owerhede het nog nie ʼn oorsaak van die ramp bekendgemaak nie. Pres. Xi Jinping het reeds ʼn deeglike ondersoek gelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.