Nieu-Seeland ondersoek raar siekte wat bedreigde pikkewyne eis

(Foto: AFP/DUNEDIN WILDLIFE HOSPITAL)

’n Raaiselagtige siekte wat reeds talle bedreigde geeloog-pikkewynkuikens in Nieu-Seeland geëis het, laat wetenskaplikes onophoudelik werk om die oorsaak te bepaal.

Die pikkewyne, inheems aan Nieu-Seeland, staan laer as kniehoogte, het liggeel oë en geel vere om die kop.

Volgens skattings deur Nieu-Seeland se departement van bewaring is daar sowat 2 400 van dié volwasse voëls oor. Die diere word as nasionaal bedreig beskou, die land se hoogste risikovlak.

Bewaringskenners sê die vastelandkolonie se bevolking het sedert 2008 met 75% afgeneem, wat beteken dat net sowat 200 broeipare oorbly. Hulle loop die gevaar om binne twee dekades uit te sterf.

Die geheimsinnige respiratoriese siekte is die eerste keer in 2019 in 20 pasuitgebroeide kuikens gesien en hulle is na die Dunedin-wildlewehospitaal vir behandeling geneem.

“Hulle kon nie hul koppe omhoog hou nie en het met star oë na asem gesnak,” het dr. Lisa Argilla, direkteur van die wildlewehospitaal, vandeesweek gesê.

“Dit was hartverskeurend om hierdie klein kuikens in so ʼn kritieke toestand te sien.

“Al die kuikens wat asemhalingsprobleme getoon het, het gevrek; daar was niks wat ons kon doen om hulle te red nie.”

Volgens Argilla het ʼn derde van 150 geeloog-pikkewynkuikens wat in die 2020-broeiseisoen na die hospitaal gebring is weens asemhalingsprobleme gevrek.

Wetenskaplikes meen nou hulle het moontlik die oorsaak van die seldsame siekte gevind.

Prof. Jemma Geoghegan, ʼn evolusionêre viroloog en professor aan die Otago-universiteit, is deel van ʼn span spesialiste wat die siekte ondersoek.

“Die personeel van die wildlewehospitaal het alles in hul vermoë gedoen om dit te voorkom, maar sonder om te weet wat die oorsaak is, is dit baie moeilik om te bestuur,” het Geoghegan gesê.

Wetenskaplikes het weefselmonsters van die dooie pikkewynkuikens met volgordebepalingstegnologie, soortgelyk aan dié wat gebruik is om die koronavirus agter Covid-19 te identifiseer, getoets.

‘Waansinnige operasie’

“Daar is twee siektes wat ons ondersoek het en ons het twee virusse gevind wat ons dink waarskynlik verantwoordelik is,” het Geoghegan gesê.

“Die span het ʼn nuwe girovirus en ʼn nuwe megrivirus geïdentifiseer.”

Daar word vermoed dat dié twee siektes ongeveer 25% van geeloog-pikkewynkuikens se lewe geëis het – ongeveer 50 elke jaar – in die afgelope broeiseisoene, het Geoghegan gesê.

“Ons het geïdentifiseer wat ons dink die oorsaak kan wees; daar is egter nog baie navorsing nodig om te bepaal of ons die siekte kan voorkom of behandel.”

Argilla sê kuikens jonger as vyf dae word vir eers uit hul neste na die Dunedin-wildhospitaal geneem, waar hulle weg van die risiko van infeksie met die hand grootgemaak kan word.

“Verlede jaar kon die dierehospitaal 90% van die kuikens na hul neste terugneem. Sowat 142 kuikens is ʼn tweede kans gegee.

“As hulle in die nes gelaat is, sou die meeste van hulle waarskynlik weens een van die twee siektes gevrek het.”

Die hospitaaldirekteur sê dit is ʼn “waansinnige projek” om dosyne kuikens met die hand groot te maak met tot 10 mense wat elke dag nodig is om die kuikens hul vyf daaglikse etes te gee.

Volgens Argilla het veeartse, verpleegsters, dieretuinbewaarders en bewaringsbewaarders van oor Nieu-Seeland kom help met die taak.

“Ons hoop om so gou moontlik ʼn entstof te vind om die kuikens te help red.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.