Nog 12 gyselaars in Gaza vrygelaat

‘n Palestynse gevangene herenig met haar familie ná haar vrylating. (Foto: Jaafar ASHTIYEH / AFP)

Dit is dag ses van die wapenstilstand tussen Israel en Hamas en nóg 12 gyselaars is vry om Gaza te verlaat.

’n Nuwe groep van 12 gyselaars (10 Israeliese en twee Thaise burgers) is laasnag vrygelaat in ruil vir die vrylating van 30 Palestynse gevangenes nadat die aanvanklike wapenstiltand van vier dae met 48 uur verleng is.

Die Israeliese burgers is almal vroue, onder wie die 17-jarige Mia Leimberg wat intussen saam met haar ma en tante na Israel teruggekeer het.

Die twee Thaise burgers is tans in ’n hospitaal in Israel en sal in ’n later stadium na Thailand terugkeer.

Daar word nou verwag dat nog een groep gyselaars en gevangenes Woensdag vrygelaat sal word voordat die wapenstilstandooreenkoms verstryk.

Katar, wat as bemiddelaar optree, hoop vir meer tyd.

“Ons hooffokus op die oomblik, en ons hoop, is om ʼn volhoubare wapenstilstand te bereik wat sal lei tot verdere onderhandelinge en uiteindelik tot ʼn einde … aan hierdie oorlog,” het Majed al‑Ansari, woordvoerder van die departement van buitelandse sake, op ’n mediakonferensie in Doha gesê.

“Ons werk egter met wat ons het. En wat ons tans het, is die bepaling tot die ooreenkoms wat ons toelaat om te verleng met dae solank Hamas die vrylating van minstens 10 gyselaars kan waarborg.”

Dié bepaling het die verlenging van twee dae moontlik gemaak.

Plaaslike media berig die Israelse regering het intussen ʼn nuwe lys van gyselaars ontvang wat Woensdag vrygelaat moet word. Daar was tot op hede egter geen amptelike bevestiging hiervan nie.

Altesame 60 Israeliese gyselaars is tot dusver ingevolge die wapenstilstandooreenkoms uit Gaza bevry. ʼn Russies-Israelse burger, 20 Thaise burgers en een Filippynse burger is buite die bestek van die ooreenkoms bevry.

Altesame 180 Palestynse gevangenes – almal vroue en minderjariges – is in ruil vrygelaat.

Onder hulle is die 14-jarige Ahmad Salaima.

“Toe Ahmed in die tronk was, kon ons hom nie besoek nie, al is hy die jongste Palestynse gevangene op net 14 jaar oud,” het sy pa Nayef gesê.

Die ooreenkoms het ʼn tydelike stilstand in oorlogvoering beteken. Toestande in Gaza is egter steeds haglik.

Die Wêreldvoedselprogram het Dinsdag gewaarsku dat ʼn “hoë risiko van hongersnood” Gaza se bevolking in die gesig staar indien hulle nie in staat is om voortgesette toegang tot kos te verskaf nie.

Toestande in die gebied is “katastrofies,” sê die agentskap se direkteur in die Midde‑Ooste. ʼn woordvoerder van die VN-kinderagentskap UNICEF sê hulp wat Gaza onder die wapenstilstandooreenkoms binnegaan, is nie eens genoeg sou sommige mense bo ander geprioritiseer word nie.

Die ooreenkoms het egter nie ʼn einde gebring aan geweld in die besette Wesoewer nie, waar twee Palestynse tieners Dinsdag tydens botsings met Israeliese troepe dood is, het die Palestynse departement van gesondheid gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sunette ·

Julle besef dat hierdie 14 jarige gevangene in die tronk was omdat hy ‘n 13 jarige vermoor het???????? Gaan kyk maar daai CCTV video op youtube. Hierdie gevangenes is almal misdadigers en terroriste, nie onskuldige mense soos die van Israel nie. Ek sien die een opskrif is van ‘n Palestynse vrou met ‘n verminkte gesig, maar die media swyg daaroor dat sy haarself so vermink het deur ‘n bom te laat ontplof. Israel moet voortgaan en doen wat hulle moet doen

Sean ·

Israel moet klaar maak waarmee hulle begin het Om 3 moordenaars vir n onskuldige guiselaar te ruil is tereur op sy beste

Goldy ·

Die mensdom se IK het so laag geword dat massa media opinies en stemreg niks meer beteken nie, en verlinks media buit dit uit. Ons vergelyk hier nie appels met appels nie maar appels met ontploffende granate.

Jaco ·

Hierdie stukstuk vrylating van gyselaars en gevanges gaan Israel nog duur te staan kom.As ek Netanyahu was, het ek volledig “vrede” met Hamas gemaak, gesorg dat die uitruil van gevangenes en gyselaars dadelik (binne ‘n week) afgehandel word, en dan so 6-7 maande later Hamas in ‘n verassingsaanval uitgewis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.