Nóg ’n pienkvoet vir die Britse koningshuis

Eugenie (30) het die nuus op haar Instagram-rekening met ʼn foto van die oulikste Jack Lewis-beertjiepantoffels gedeel. (Foto: Instagram.)

Prinses Eugenie en Jack Brooksband verwag hulle eerste kind en die baba sal sy of haar opwagting waarskynlik vroeg in 2021 maak.

Die Britse koningshuis het die nuus Vrydagoggend bevestig met ʼn amptelike verklaring. Eugenie (30) het die nuus op haar Instagram-rekening met ʼn foto van die oulikste Jack Lewis-beertjiepantoffels en nog ʼn stralende foto van die paartjie saam gedeel. In ʼn onderskrif saam met die foto’s het Eugenie geskryf sy en Jack is opgewonde oor die komende jaar.

Die baba sal die eerste kleinkind vir Eugenie se ouers, prins Andrew en Sarah Ferguson, wees, terwyl dit die koningin en hertog van Edinburgh se negende agterkleinkind is. Hulle kind sal ook die elfde opvolger vir die Britse troon wees, wat beteken Eugenie se oom, prins Edward wat die koningin se jongste seun is, het nou in die twaalfde plek agter die prinses en haar kind ingeskuif.

Dit is egter onwaarskynlik dat Eugenie en Jack se baba ʼn koninklike titel sal kry omdat hulle kinders gewoonlik ʼn titel van hulle vader ontvang, tensy die koningin self anders sou besluit.

Prinses Eugenie en Jack Brooksbank op hulle troudag in Oktober 2018. (Foto: ANA)

Die amptelike verklaring uit Buckingham-paleis lui: “Haar Koninklike Hoogheid, prinses Eugenie, en mnr. Jack Brooksbank is baie bly om aan te kondig dat hulle vroeg in 2021 ʼn baba verwag.

“Die hertog van York en Sarah, hertogin van York, mnr. en mev. George Brooksbank, die koningin en die hertog van Edinburgh is verheug oor die nuus.”

Eugenie en Jack is in Oktober 2018 getroud en het die afsonderingstyd tot dusver in Fergie en prins Andrew se tuiste op die koningin se Windsor-landgoed deurgebring.

Eugenie se suster, prinses Beatrice (32), is in Julie met die eiendomsmagnaat Edoardo Mapelli Mozzi getroud.

Sy het die Britse poniepers behoorlik aan die gons gehad toe sy vroeër die maand gewaar is waar sy baba-items by die Little White Company aangekoop het. Dit is die eerste keer dat sy en haar eggenoot ná hulle geheime troue vroeër vanjaar in die openbaar gewaar is, maar dit lyk nou of Beatrice net opgewonde is om vir die eerste keer ʼn tannie te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Wag maar vir Feburarie/Maart/April in SA Willem, dan gaan die kraam hospitale oorval wees!

Sarel ·

Nou gaan Harry se vrou seker ook wil swanger raak.
Sy kan nie agter bly nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.