Nog ʼn polisiebeampte gevonnis vir George Floyd se moord

Tou Thao en J. Alexander Kueng. (Foto: Hennepin County-tronk / AFP)

ʼn Voormalige Amerikaanse polisiebeampte van Minneapolis is tot 57 maande (byna vyf jaar) tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die dood van George Floyd (46).

Sky News en BBC berig Tou Thao, wat omstanders teruggehou het toe Derek Chauvin nege en ʼn half minute lank op Floyd se nek gekniel het, is tot vier jaar en nege maande gevonnis op aanklag dat hy medepligtig was aan die moord op Floyd.

Dit sal gelyklopend uitgedien word met die drie en ʼn half jaar tronkstraf wat Thao verlede jaar opgelê is vir die skending van Floyd se burgerregte. Hy is in Julie verlede jaar saam met J Alexander Kueng (28) gevonnis.

Thao is die vierde en laaste beampte wat gevonnis is vir Floyd se moord in 2020. Sy dood het tot oproer oor die hele VSA gelei.

Voor vonnisoplegging het Thao in die hof volgehou hy “was nie van plan om iemand te probeer seermaak nie” en “het die beste gedoen wat hy gedink het hy kon”.

“Ek het gehoop dat hy ʼn bietjie meer berou, spyt en die erkenning van die een of ander verantwoordelikheid sou toon,” het regter Peter Cahill gesê voordat die vonnis opgelê is.

Thao het ʼn pleitooreenkoms verwerp en gesê hy “sal lieg” om skuldig te pleit wanneer hy dink dat hy nie iets verkeerd gedoen het nie.

Floyd is dood nadat Chauvin destyds langer as nege minute met sy knie op ʼn geboeide Floyd, wat op die grond gelê het, se nek gedruk het. Floyd se inhegtenisneming het gevolg nadat hy glo ʼn vervalste $20-noot gebruik het om ʼn pakkie sigarette mee te koop.

Chauvin dien tans ʼn vonnis van 22 en ʼn half jaar tronkstraf uit vir die moord op Floyd. Hierdie vonnis is in Junie verlede jaar opgelê. Chauvin is intussen ook ʼn verdere 21 jaar tronkstraf opgelê ná die skuldigbevinding op afsonderlike federale aanklagte van die skending van Floyd se regte.

Die vierde polisiebeampte, Thomas Lane, is in Februarie verlede jaar skuldig bevind aan die skending van Floyd se burgerregte en is tot twee en ʼn half jaar tronkstraf gevonnis.

Lees die vorige berigte oor George Floyd hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Amelia ·

sou nie gebeur het as hy vervalste dollars gebreuk het nie hoeveel mense se lewens nou verwoes

ALTA ·

n Beskuldigde kan n bad vol trane huil maar hulle sal nogsteeds se jy het te min berou getoon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.