Nog R2 miljard geskenk om reënwoude te beskerm

Argieffoto (Foto: Kanenori/Pixabay)

Frankryk en twee niewinsgedrewe organisasies (NWO’s) sal ʼn bykomende €100 miljoen skenk tot ʼn aksieplan om die wêreld se tropiese reënwoude te beskerm, het pres. Emmanuel Macron tydens ʼn reis na Afrika gesê.

Die Franse leier het Donderdag ʼn nuwe uitleg onthul tydens die afsluiting van die One Forest-beraad in Gabon. Hy het gesê hy wil “natuurlike kapitaal in die hartjie van ons ekonomieë plaas”.

Grootskaalse ontbossing van tropiese woude vir landbou of bosbou is wêreldwyd ʼn bedreiging en dreig om klimaatsverandering te vererger en kritieke biodiversiteit te verwoes.

“Ons gaan ʼn bykomende €100 miljoen (byna R2 miljard) beskikbaar maak aan lande wat hul strategieë wil versnel om dié noodsaaklike koolstofreserwes en biodiversiteit te beskerm.”

Frankryk sal die helfte van die fondse skenk en die res kom van die Amerikaanse NWO’s Conservation International en die Walton-stigting, opgerig deur die stigters van die handelsreus Walmart.

Macron versoek ook ʼn stelsel van “biodiversiteit-sertifikate” wat lande sal vergoed wat die reënwoude beskerm of herstel. Dit kan tussen lande of met die privaat sektor uitgeruil word.

“Dit kan ʼn voordelige reaksie wees op die mislukte markte vir koolstofuitlatingskrediete wat maatskappye in staat gestel het om krediete te koop vir ‘groen’ aktiwiteite wat die prys van koolstof verlaag het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.