Nog sterftes ná brand by Russiese navorsingsentrum

Die dodetal in die brand by die Russiese navorsingsentrum het nou tot 17 gestyg. (Foto:
Michael MacKay/Twitter)

Die dodetal ná verlede week se brand by ʼn Russiese weermag-navorsingsentrum het nou tot 17 gestyg, terwyl werk voortduur om die puin by die perseel op te ruim.

Die brand het Donderdag by die Sentrale Navorsingsinstituut van die Russiese lug- en ruimtemagte in Twer uitgebreek. Amptenare het later dieselfde dag gesê ses mense het in die brand omgekom.

Volgens die voorlopige ondersoek het ʼn foutiewe elektriese kabel tot die brand gelei, maar daar was sedertdien nog geen verdere inligting oor die amptelike oorsaak nie.

Die departement van verdediging sê die instituut se navorsing fokus op Russiese lug- en ruimteverdediging, asook die ontwikkeling van nuwe teen-lugafweerstelsels.

Toevallige brande kom gereeld in Rusland voor, en honderde brande word jaarlikse aangemeld weens verouderde en vervalle infrastruktuur, asook ʼn gebrek aan voldoening aan veiligheidsmaatreëls.

Ooggetuies het vroeër vertel hoe mense uit die vensters van die boonste verdiepings gespring het in ʼn poging om van die vlamme te ontkom.

Verskeie mense is ook in die brand beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KatjieDeKat ·

Enige nuus oor die massiewe gasaanleg ontploffing in Bryansk?

Samuel ·

Die amptelike kommentaar sal seker dui op ‘n Oekraïnse aanval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.