Noodtoestand op Italiaanse eiland ná modderstorting

Verwoesting is in Casamicciola Terme gesaai na ‘n modderstorting (Foto: A’Ali, Twitter)

Strate vol modder, ontwortelde bome en motorwrakke langs die strate.

Dit is die situasie wat inwoners van Casamicciola Terme op die Italiaanse eiland Ischia Saterdag moes trotseer nadat ʼn modderstorting verwoesting in dié dorp gesaai het.

Sewe mense is dood en vyf word vermis terwyl talle winkels, huise en motors deur die modder verswelg is.

Weens die omvang van die skade het die Italiaanse regering Sondag besluit om ʼn noodtoestand op die eiland af te kondig en ʼn gedeelte van €2 miljoen (R35,5 miljoen) se hulpfondse is beskikbaar gemaak.

Busse deur die modder verswelg (Foto: Eliano Imperato, AFP)

Die eiland wat in die somer heelwat toeriste lok, lê noordwes van Capri.

Swaar reën het modderstrome deur die strate van die dorp wat deur sowat 8 000 inwoners bewoon word tot gevolg gehad.

Volgens ʼn inwoner, Salvatore Lorini (45), het die modder van die eiland se hoogste berg weggeskeur en verwoesting in die dorp gesaai.

“Winkels, motors en hotelle is verwoes,” vertel hy. “Dit is baie hartseer vir ons en ons harte gaan veral uit na die mense wat vermis geraak het.”

Meer as 200 reddingswerkers is na die eiland ontbied en duikers het in die see na oorlewendes gesoek. Meganiese skopgrawe is ingespan om toegang tot huise, motors en winkels te probeer kry om na vermiste persone te soek.

Die reddingspoging is deur reën en sterk wind bemoeilik, wat ook veerbote vertraag het wat versterkings van die vasteland gebring het.

Honderde vrywilligers het ook op hul knieë in die modder rondgekruip om die dorp se strate skoon te maak.

Matteo Piantedosi, minister van binnelandse sake, het vroeër gewaarsku daar is mense wat in die modder vasgekeer is en gesê dit is ʼn  “baie ernstige” situasie.

In die gebied wat die ergste geraak is, is minstens 30 gesinne in hul huise sonder water of elektrisiteit vasgekeer, met modder en puin wat die pad versper.

Amptenare het gesê hulle beplan om die dorp te ontruim en tydelike huise vir tussen 150 en 200 mense te vind.

Plaaslike owerhede het ʼn beroep op inwoners van Ischia gedoen om in hul huise te bly om te voorkom dat die reddingsoperasie belemmer word.

Casamicciola Terme is in 2017 deur ʼn aardbewing getref wat die lewe van twee mense geëis het. Die dorp is teen die einde van die 19de eeu heeltemal vernietig deur ʼn baie kragtiger aardbewing.

Die verwoesting in Ischia kom net weke nadat 11 mense in swaar reën en oorstromings in die sentrale Italiaanse streek Marche gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.