Anders Behring Breivik, die man wat tronkstraf uitdien vir die destydse massamoord op 77 jong mense in Noorweë, doen nou aansoek om parool. Daar word verwag dat die aansoek verwerp sal word.
Die verregse ekstremis het Dinsdag sy arm in ’n Nazi-saluut gelig toe hy in die distrikshof in die suidelike streek van Telemark verskyn het. ’n Nota op sy lapel vasgespeld het gelees: “Stop julle volksmoord teen ons wit nasies.”
Dié boodskap was ook in die vorm van ʼn plakker op sy aktetas.
Breivik (42) dien tans 21 jaar tronkstraf uit nadat hy op 22 Julie 2011 agt mense vermoor het toe hy ’n motorbom naby die regeringskantore in die hoofstad Oslo laat afgaan het.

Anders Behring Breivik het Dinsdag sy arm in ’n Nazi-saluut gelig. (Foto: Ole Berg-Rusten / NTB / AFP)
Hy het kort daarna 69 mense – meeste van hul tieners – doodgeskiet by ʼn jeugkamp van die Arbeidersparty op ’n eiland buite die stad.
Breivik het vroeër gesê hy het dié aanvalle – wat as Noorweë se dodelikste sedert die Tweede Wêreldoorlog bestempel word – uitgevoer omdat sy slagoffers multikulturalisme omhels het.
Breivik is in 2012 Noorweë se strengste vonnis destyds opgelê vir die moorde. Die wet het sedertdien verander en maak voorsiening vir langer tronkstraf indien ’n beskuldigde as ’n gevaar vir die samelewing beskou word.
Breivik moes minstens tien jaar van sy vonnis uitdien voordat hy sy eerste versoek om voorwaardelike vrylating kon rig.
“Soos in enige ander staat wat deur die oppergesag van die reg beheer word, het ʼn veroordeelde die reg om voorwaardelike vrylating te versoek en Breivik het besluit om hierdie reg uit te oefen,” het sy prokureur, Oystein Storrvik, aan AFP gesê.
Die families van sy slagoffers het intussen hul vrese uitgespreek dat Breivik die drie dag lange paroolverhoor gaan gebruik as ʼn platform vir sy politieke sienings.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Moet ‘n ondersteuner wees van hom wat jou duimaf.
Hier by ons sou hy seker nog borg ook gekry het as hy die regte kleur en party is.
Dit lyk as of Noorweë ‘n Waarheids- en Versoeningskommissie kort.
Hy moet nooit ooit weer di buite kant sien nie.
Hy haat swart mense met ‘n passie.