Novak bied hulp aan tennissoldaat

Novak Djokovic. Foto: William West/AFP.

As ’n professionele tennisspeler is Oekraïne se Sergiy Stakhovsky sekerlik al daaraan gewoond om uitdagings op die baan te trotseer, maar oorlog is ʼn heel ander storie.

Die 36-jarige speler het weliswaar sy uittrede ná vanjaar se Australiese Ope aangekondig, maar het in 2013 met Roger Federer op Wimbledon afgereken, terwyl hy al onder die top 35-spelers op die ATP-ranglys getel het.

Hy is nou terug in Oekraïne waar hy saam met ander sportsterre – onder wie Vitali en Wladimir Klitschko – sy geboorteland teen die Russiese inval verdedig.

Stakhovsky het gister ’n skermskoot van ’n WhatsApp-gesprek met Novak Djokovic op sosiale media gedeel, waar die sterspeler finansiële hulp aan sy medespeler beloof het.

“Stako, ek dink aan jou en ek hoop dat dinge vinnig sal bedaar. Laat weet my asseblief wat die beste adres is waarna ek finansiële of enige ander hulp kan stuur,ּ” het die 34-jarige Serwiër getik.

’n Skermskoot van die Whatsapp-boodskappe.

Hoewel Djokovic die afgelope ruk self in die spervuur was nadat hy uit Australië gedeporteer is, tree ’n hele paar spelers en afrigters vir hom in die bres.

Reilly Opelka, die Amerikaanse speler, het onderaan Stakhovsky se inskrywing gesê dat Djokovic se boodskap geen verrassing behoort te wees nie, terwyl Patrick Mouratoglou ook verlede week die Serwiër geloof het.

“Daar is baie mense wat meen dat Novak Djokovic nie ’n outentieke persoon is nie; dat hy net speel om geliefd te voel. Ek glo egter dat hierdie opvatting glad nie die waarheid is nie; dade tel soveel meer as net woorde. Baie mense kan uitstekend voorgee en maak of hulle outentiek is, maar uiteindelik is dade al wat tel,” het die Franse tennisafrigter in ’n video op sosiale media gesê.

Intussen het spelers van Rusland en Belarus hul misnoeë oor die oorlog in Oekraïne uitgespreek. Volgens internasionale tennisregulasies mag hierdie spelers nog aan toernooie deelneem, mits hulle onder ’n neutrale vlag in aksie is.

Daniil Medvedev het al vir vrede op sosiale media gepleit, terwyl Andrey Rublev “no war please” op ’n kameralens in Dubai geskryf het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Snaaks as iemand iets goeds doen of sê dat hy slegs ‘speel om geliefd te voel’. So word alle goeie werke aan bande gelê.

Marius ·

Mense wat hulp aanbied of uitreik in vandag se tye is skaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.