NS-ma se verhoor begin dán

Die Dickason-sussies is dood in hul huis in Nieu-Seeland aangetref. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse ma wat teregstaan op aanklag van die moord op haar drie jong dogtertjies, se verhoor sal na verwagting op 17 Julie volgende jaar in die hooggeregshof in Christchurch, Nieu-Seeland, begin.

Die saak teen Lauren Dickason (40) het Vrydag in die hooggeregshof in Timaru voorgekom waar regter Cameron Mander die verhoordatum bepaal het. Dickason se advokaat, Kerryn Beaton, het namens haar verskyn.

Mander het Dickason van die hofverrigtinge verskoon aangesien sy steeds in aanhouding in ’n psigiatriese eenheid by die Hillmorton-hospitaal in Christchurch is. Sy sou aanvanklik op 22 Julie ontslaan word.

Beaton het die aansoek om die verhoor na die hooggeregshof in Christchurch oor te plaas, aan die einde van verlede maand suksesvol ingedien.

NZ Herald en Stuff.co.nz, ’n digitale nuusplatform in Nieu-Seeland, berig Dickason se verhoor is vir twee weke op die hofrol geplaas. ’n Voorverhoor sal in Februarie plaasvind.

Dickason is in die hospitaal opgeneem nadat sy glo haar dogters – Liané (6) en die tweejarige tweeling, Maya en Karla – op 16 September 2021 vermoor het.

Dr. Graham Dickason, haar man, het ná ’n werksgeleentheid op die liggame van sy drie dogters afgekom. Lauren, ook ’n dokter, is ná die voorval na ’n hospitaal geneem en het twee dae later in die hof verskyn in verband met die kinders se dood.

Die Dickason-egpaar het sowat ’n week voor die moorde uit Suid-Afrika saam met hulle kinders in Timaru aangekom en was aanvanklik in kwarantyn in Nieu-Seeland.

Dickason het in Oktober onskuldig gepleit op die aanklagte teen haar.

Luidens berigte geld verskeie hofbevele oor die saak steeds. Dit sluit een in wat die bekendmaking van besonderhede oor die saak verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Erik ·

Baie hartseer. Hoekom neem dit solank voor die verhoor? Lyk my NZ se regstelsel is pateties stadig?

piet ·

Gee seker vir haar voldoende geleentheid om te “herstel” sodat sy die verhoor kan deurstaan.

Piet Snot ·

Maroela, net ʼn kommentaar oor die hofbevel wat die berig van detail verbied: dit geld uiteraard net in NZ; dit bind nie ZA koerante nie.
Maar ek’s so jammer vir die vrou, die man, almal wat geraak word. Dis net genade dit het ons nie oorgekom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.