Nuwe herrie oor Franse skole se verbod op abaja-rokke

Frankryk se minister van onderwys, Gabriel Attal. (Foto: Richard Bouhet/AFP)

Die Franse regering se besluit om skoolmeisies te verbied om abaja-rokke – lang, vloeiende rokke van Midde-Oosterse oorsprong – te dra, het ʼn nuwe debat oor die land se sekulêre wetgewing en die behandeling van die Moslem-minderheid veroorsaak.

Gabriel Attal, Franse minister van onderwys, sê die rokke, wat sommige Moslem-meisies dra, gaan voortaan nie in openbare skole toegelaat word nie. Leerders keer binnekort ná die somervakansie terug na die klaskamer.

“Ons skole word op die proef gestel. Die afgelope paar maande het skendings van ons sekulêre regte aansienlik toegeneem, veral rakende die dra van geloofsdrag soos abaja-rokke of qamis (lang jurke vir mans),” het Attal gesê.

In 2004 het Frankryk skoolleerders verbied om kentekens of kleredrag wat ʼn geloofsaffiliasie demonstreer te dra. Die verbod is gegrond op die land se sekulêre wetgewing wat veronderstel is om neutraliteit in staatinstellings te waarborg.

Die dra van hoofbedekkings, tulbande, groot kruise en kippahs (die skedelkap wat tradisioneel deur Joodse mans gedra word) is gevolglik verbied. Skoolowerhede sukkel egter om die dra van abaja-rokke te reguleer, omdat dit in ʼn grys gebied – iewers tussen modeneiging en geloofsdrag – val.

Attal, ʼn ambisieuse 34-jarige politikus wat minder as twee maande gelede die pos van minister van onderwys aanvaar het, het besluit om die verbod in te stel in ʼn stap wat talle mense sien as ʼn poging om konserwatiewe Franse te paai en sy openbare profiel ʼn hupstoot te gee.

Olivier Veran, ʼn regeringswoordvoerder, het die besluit gesteun en sê abaja-rokke is “uiteraard” geloofsdrag en ʼn “politieke aanval” wat hy vergelyk het met die poging om mense tot Islam te bekeer.

“Skole is sekulêr. Ons sê dit kalm, dog ferm: dit is nie die plek daarvoor nie,” het hy aan die TV-kanaal BFM gesê.

Kunsmatige debat?

Hoewel ondersteuners skole wil beskerm as ʼn neutrale sone vry van geloofsdruk, voer kritici aan die kwessie stigmatiseer Moslems. Hulle voer aan die kwessie word gedryf deur regse en verregse politici.

Syfers van die departement van onderwys vir Mei – die jongste beskikbare syfers – wys dat daar uit byna 60 000 openbare skole 438 klagtes oor moontlike oortredings van sekulêre reëls was; sowat die helfte daarvan was oor die dra van kleredrag wat met geloofsoortuigings verband hou.

“Hartseer om te sien dat die terugkeer klas toe polities gepolariseer word deur ʼn nuwe, absurde geloofsoorlog oor vroueklere wat heeltemal kunsmatig is,” het die linkse politieke leier Jean-Luc Melenchon op X (voorheen Twitter) geskryf.

“Wanneer gaan daar burgerlike vrede en ware sekularisme wees wat mense saambind, eerder as om hulle te treiter?”

Abdellah Zekri, adjunkpresident van die Franse Raad vir die Moslemgeloof (CFCM), sê dit is verkeerd om abaja-rokke as geloofsdrag te bestempel.

“Die abaja is nie ʼn geloofsgewaad nie. Dit is ʼn modeneiging,” het hy aan BFM gesê.

Ander modeneigings, soos die dra van gewaagde bostukke deur tienermeisies, het ook ʼn debat ontlok in ʼn land waar slegs sommige private skole spesifieke skooldrag voorskryf.

Attal se departement het nog nie geskrewe riglyne oor die verbod op abaja-rokke gegee nie.

Dit gaan waarskynlik in die howe betwis word en kan lei tot ʼn opdraande stryd vir skole wat sal moet besluit wanneer ʼn vloeiende rok ʼn persoonlike modekeuse eerder as ʼn geloofsverklaring is.

Verbod op hoofbedekkings

Sommige vroue kies om abaja-rokke, of hoofbedekkings, te dra as ʼn teken van hul kulturele identiteit, eerder as om geloofsredes.

In die Arabiese wêreld of Midde-Ooste is die abaja “nie fundamenteel ʼn geloofsgewaad nie”, sê Haoues Seniguer, ʼn spesialis oor Islam by die Instituut vir Politieke Studies in Lyon.

“Die beste manier om te weet of dit vir geloof is, is om te bepaal hoe dit die mens wat dit dra, laat voel,” sê hy.

Verskeie konserwatiewe politici in Frankryk het die afgelope paar jaar gevra dat die verbod op die dra van geloofsimbole uitgebrei word sodat dit universiteite insluit – en selfs ouers wat hul kinders op skooluitstappies vergesel.

Die verregse leier Marine Le Pen het tydens verlede jaar se presidentssverkiesing gevra dat die dra van sluiers ook op straat verbied word.

Die land se grondwet waarborg burgers se reg op geloofsvryheid, maar plaas ʼn verpligting op die staat en staatsamptenare om neutraal te wees in die uitvoering van hul pligte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Sorry to say, maar as julle wil abaja-rokke of qamis dra, gaan doen dit dan in Moslem-georiënteerde lande, waar julle vandaan kom. Frankryk is ‘n ontwikkelde land, ‘n hoofsaaklik-Christen land. Julle sal niks daarvan hou as die Franse in die VAE kom woon, op welsynsgeld oorleef en wyn drink, omdat dit deel van hulle kultuur is nie, sal julle?

Anel ·

Dis doe regte ding om te doen. As hulle snaaks wil aantrek, doen dit dan in hulle eie skole of in hul moslemlande. Wat vir die een geld, moet vir die ander ook geld. Kan nie sien hoe die dra van daardie gewaad ‘n modegier kan wees nie. Selfde met die gisigte wat heeltemal toe is. Mens weet nie wie of wat kruip daaronder weg nie. Ons dogter in Nederland is al so, dat as sybin ‘n winkel is een so ‘n gewaade, toe persoon stap in, dat stap sy uit.

Karoo ·

Kunsmatige debat vir seeker. Laat almal dan ‘n skool uniforem dra dan los jy meeste van die probleme op.

Impact ·

Die twak gaan nou ook na ons land oorspoel – hulle na aap mos al wat leef en beef

Harley Davidson ·

Dit is Frankryk en die Franse se reg om oor hulle belange te besluit en die wat nie daarvan hou nie op ‘n paar ou binnebande te sit en die rigting aandui waarvan hulle afkomstig is sodat hulle nie verdwaal terug van waar hulle vandaan kom nie.

Cherokee ·

Dit is alles deel van wat geskryf is in die Groot Boek, oor die antichris in die laaste tye op aarde.

Souterig ·

Dis dan die Franse se land, hoe nou dat immigrante (baie van hulle ongenooid) wetgewing probeer afdwing wat hulle pas, hoekom gaan hulle nie in solidariteit Afghanistan toe nie waar Moslem vrouens verbete vir hul oorlewing veg.

Cherokee ·

Ironies. Water geloof is die Afgane? Dit is moslems wat moslems aanval.

annie ·

1984… verskillend is dieselfde; godsdiens is sekulêr, mag is vryheid…

Pieter ·

Sommige dra te veel klere en net om die hoek dra hulle weer te min klere… So wat is die werklike rede nou regtig?
17 September 1793 het die Franse ook maar besluite gemaak…

Samuel ·

Die Franse regering hoef nie bang te wees vir ‘n Menseregte kommissie nie. Doen wat julle goed dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.