Nuwe Tour de France-roete beloof prentjiemooi wedren

Tour de France se algemene direkteur, Christian Prudhomme (Foto: Christine Poujoulat/AFP)

Die roete vir die 111de weergawe van die Tour de France-fietswedren is Woensdag in ’n aanbieding by Parys se Palais des congrès (ʼn konferensiesentrum) onthul en sluit in ʼn Italiaanse wegspring-debuut in Florence en ʼn finaal in die Franse Riviera.

Die wedren sal op 28 Junie begin en op 21 Julie eindig. Fietsryers se laaste skof sal van Monaco tot Nice strek.

Die aanbieding is tydens ’n spoggeleentheid onder leiding van Christian Prudhomme, direkteur van Tour de France, wat die wedren organiseer, gelewer. Dit is gedoen voor byna 4 000 gaste, onder wie sommige van die verwagte deelnemers, burgemeesters van stede en dorpe waardeur die roete kronkel en lede van die media.

Dit is die eerste keer dat die wedren nie in Parys eindig nie; die stad is ontoeganklik weens voorbereiding vir die Olimpiese Spele wat volgende jaar daar plaasvind. Dit is ook die eerste keer dat die wedren in Italië afskop.

In plaas van die tradisionele laastedag-parade langs die Champs-Élysées, kan toeskouers eerder ʼn potensieel beslissende individuele rit langs die Franse Riviera se kuslyn en in die heuwels tussen Monaco en Nice verwag.

Organiseerders hoop dat die wedren enduit ʼn energieke skouspel sal wees.

“Dit is moeilik om Parys te vervang, so wat is beter as die natuurskoon van die skitterende roete tussen Monaco en Nice,” het Prudhomme gesê.

Daar sal vier fases in Italië wees, met ʼn paar groot name wat vereer word; die tweede skof begin ʼn paar kilometer van wyle fietsryer Marco Pantani se geboortedorp en eindig in Rimini, waar hy in 2004 gesterf het.

Fietsryers sal al in die vierde fase die Alpe trotseer.

“Die toer het nog nooit so ver bo seespieël plaasgevind nie. Die panoramas in die hoë Alpe is net asemrowend,” sê Prudhomme.

Fase ses sal veral die oog van wynliefhebbers vang terwyl dit deur die Route des Grands Crus tussen Macon en Dijon kronkel, terwyl fase sewe deur die wingerde van Nuits-Saint-Georges in Boergondië gaan.

Ná Troyes in die Champagne-streek swaai die wedloop suidoos na Pau en die Pireneë en daarna mik dit weer wes deur Nimes en terug na die Alpe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.