NZ nog maande lank vir toeriste gesluit

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Nieu-Seeland se landsgrense sal vir minstens nog vyf maande vir buitelandse reisigers gesluit bly.

Chris Hipkins, die minister verantwoordelik vir die land se reaksie op die pandemie, het Woensdag aangekondig dat Nieu-Seelanders wat tans in Australië gestrand is, vanaf middel Januarie huis toe sal kan gaan. Kiwi’s wat van elders af reis, sal ’n maand later in hul land toegelaat word.

Buitelandse burgers sal egter tot einde April moet wag om Nieu-Seeland te besoek.

“Ons besef dit was moeilik, maar die einde van streng beperkte reis is in sig,” het Hipkins vroeër vandag aan verslaggewers gesê.

Die minister het voorts gesê Indië, Pakistan, Indonesië, Fidji en Brasilië sal vanaf volgende maand nie meer as lande met ’n baie hoë risiko geklassifiseer word nie, wat beteken dat hul burgers in aanmerking sal kom om vanaf 30 April na Nieu-Seeland te reis.

Dié land het sy grense in Maart verlede jaar gesluit en vereis dat alle internasionale besoekers twee weke hotelkwarantyn moet ondergaan. Die verpligte kwarantyntydperk is onlangs tot sewe dae verkort.

Volgens Hipkins sal reisigers voortaan slegs sewe dae lank kan self-isoleer mits hulle ten volle ingeënt is en ’n reeks Covid-19-toetse geslaag het.

Die effense verslapping in reisbeperkings kom te midde van toenemende druk van gefrustreerde Nieu-Seelanders oorsee wat sukkel om verblyf in die oorvol hotel-kwarantynstelsel te bespreek. Daar word gereeld plaaslik berig oor Kiwi’s wat nie kan terugkeer huis toe om sterwende familielede te besoek nie omdat daar geen beskikbare kwarantynkamers is nie.

Baie Nieu-Seelanders versoek intussen dat die landsgrense vir Kersfees heropen. Die minister meen egter dit is nie ’n realistiese verwagting nie.

“Daar is steeds ’n wêreldwye pandemie, met die aantal gevalle wat in Europa en ander wêrelddele styg.

“Ons moet dus versigtig wees om ons grens te heropen; dit is wat ons doen en wat ons nog altyd gedoen het.”

Nieu-Seeland het tot dusver ’n suksesvolle strategie tot die pandemie gevolg met slegs 40 Covid-19‑verwante sterftes onder sy vyf miljoen burgers.

Amptenare het egter onlangs erken dat die hoogs aansteeklike Delta-variant dit vorentoe moeiliker gaan maak om die verspreiding van die virus op groot skaal te beperk.

Volgens Worldometer se statistieke het 10 609 mense in Nieu-Seeland reeds positief getoets nadat 216 nuwe gevalle aangemeld is.

Die land het tans 5 036 aktiewe gevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michael ·

Covid net voertuig om mense te onderwerp aan diktatorskappe. Dit het niks met mense se gesondheid te doen. Hoop jy besef dit voor dit te laat is

Lubbe ·

Dit is belaglik, van ons kinders is daar wat ons 3 jaar laes gesien het.

Barney ·

Werk nog die hele tyd rond in die townships en makeer net mooi niks. Daar is geen pandemie nie man. Dis alles ń klig om jou bang te maak sodat jy globale kommunisme aanvaar en ingespuit word met eksperimentele goed.

Michael ·

Net so Barney, dit gaan geensins om mense se gesondheid nie. Dat baie mense dit nog nie agterkom is mindboggling

Oomniklaassevriend ·

Ja Michael hulle is seker gehipnotiseer deur die hoofstroommedia

Lida ·

Dankie NZ dat julle ons kinders ander familie en vriende veilig hou. Ons weet dat hulle nie uitgelewer is nie en ons sal geduldig wag vir die grense om weer oop te maak. Ons was so bevoorreg om n volle jaar in NZ te kon wees weg van al die onsekerheid en geweld.

Eclectus ·

Lees Waldimar Pelser se skrywe in Rapport van 26 September.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.