Oekraïne: Teater-slagoffers probeer mekaar help

“Kinders” is in Russies op die grond aan weerskante van die gebou geskryf. (Foto: Satellite image/Maxar Technologies/AFP)

WAARSKUWING: Dié berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Die slagoffers wat Woensdag in ʼn teater in die stad Marioepol in Oekraïne geskuil het toe dit gebombardeer is, is aan hul eie genade oorgelaat weens die voortslepende konflik met Rusland wat die land se nooddienste lamgelê het.

Sommige van die mense wat die aanval oorleef het, probeer nou self om ander slagoffers van onder die puin te bevry.

Sergiy Taruta, voormalige goewerneur van die Donetsk-streek, het Donderdag gesê dat minstens 130 mense reeds uit die verwoeste gebou gered is, berig CNN.

“Mense is self besig om die puin op te ruim. Ander burgers het probeer help, maar weens die konstante bombardering is dit nie veilig om daarheen te gaan nie,” sê hy.

“Daar is ook geen redding- en nooddienste nie, want die dienste wat veronderstel is om mense te red, te behandel en te begrawe, bestaan nie meer nie.”

Vanweë die afwesigheid van amptelike pogings is daar steeds geen duidelikheid oor die getal beserings of sterftes ná die aanval nie.

Minstens 1 000 Oekraïense burgers, onder wie kinders, het in die teater se bomskuiling weggekruip toe dit aangeval is. Daar is ook “kinders” in Russies op die grond aan weerskante van die gebou geskryf, glo om moontlike lugaanvalle af te weer.

Vadim Boychenko, burgemeester van die stad, het die aanval vroeër as “volksmoord” bestempel, maar Rusland hou vol dat dit nie sy magte is wat die teater gebombardeer het nie.

Lughawe nuwe teiken

Rookwolke omhul die stad Lviv. (Foto: Yuriy Dyachyshyn/AFP)

Russiese magte het Vrydag ʼn aanleg waar vliegtuie herstel word, in die stad Lviv vernietig nadat dit glo die stad se lughawe wou teiken. Niemand is tydens die aanval beseer nie, het die stad se burgemeester, Andriy Sadovyi, gesê.

Volgens AFP is alle bedrywighede by die aanleg, wat naby Lviv se lughawe geleë is, gestaak.

Kontrolepunte naby die lughawe het gesorg dat motoriste nie in die rigting van die lughawe kon reis nie.

Oekraïne se lugmag het gesê dat die missiele op grond van voorlopige inligting tot hul beskikking waarskynlik uit die Swartsee gelanseer is.

Russiese vlootmagte het Sondag op die kus van die Swartsee toegesak en ʼn blokkade opgerig om Oekraïne van enige internasionale maritieme handel te isoleer.

Russiese kruisermissiele het ook vroeër ʼn militêre opleidingsbasis wes van Lviv verwoes. Dit het tot die dood van 35 mense gelei. Meer as 130 mense is beseer.

‘Lug-oorlog’

Vandat Rusland se magte op die grond gestuit is danksy hewige Oekraïense weerstand, het dié land hom toenemend tot lug- en langsafstandaanvalle gewend in ʼn poging om die oorhand te kry.

Na raming het Rusland nou al meer as ʼn duisend missiele op Oekraïense teikens afgevuur sedert die konflik tussen die twee lande drie weke gelede begin het.

Vrydag in die vroeë oggendure het lugaanvalsirenes opnuut in Kiëf, sowel as in Odessa en Kharkiv geloei, berig AFP.

Die Oekraïense regering het ʼn kleuterskool en ʼn mark in Kharkiv onder Rusland se jongste teikens gelys.

Pres. Wolodimir Zelenski het in ʼn videoboodskap erken dat die situasie in verskeie dele van Oekraïne “moeilik” is.

“Maar ons sal niemand agterlaat nie en ons sal hulle [Rusland] nie vergewe nie. Oekraïners sal vry wees.”

In die hoop om die lugaanvalle te stuit, het Zelenski vroeër vandeesweek vir meer bystand by ʼn aantal lande gepleit. Hy het ook ʼn roerende video gewys wat die impak van die voortslepende konflik op sy land en sy mense het ten toon stel.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het Woensdag aangekondig dat die VSA se jongste militêre hulppakket – wat altesame $1 miljard beloop – Oekraïne sal help om lugafweerwapens te bekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Twallie ·

My hart gaan uit na al daai mense.

En dit alles oor een man se gierigheid, ambisie en ego. Siek verby.

JohanR ·

Twallie altyd ‘n man of manne wat ‘n oorlog begin. Kannie dink in die onlangse geskiedenis dat ‘n vrou of vroue ‘n oorlog begin het nie. Dit is altyd die onskuldiges wat ly!

Johan ·

Dink net dat indien ons n sterk Afrikaner land as buurstaat gehaat het, met die onderdrukking en tweedeklasburgers wat ons hier is, kon SA net so uitgedraai het.

TO ·

Die wêreld moet hulle apatiese houding onthou aan onskuldige mense. God slaap nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.