Olimpiese bokser vermoor glo swanger minnares

Felix Verdejo. (Foto: Sarah Stier/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/AFP)

’n Voormalige Olimpiese bokser van Puerto Rica is Maandag daarvan aangekla dat hy sy minnares en hul ongebore kind vermoor het.

Felix Verdejo het via ’n videoverbinding in die federale hof in San Juan verskyn waar hy op drie aanklagte van ontvoering en die moord op Keishla Rodriguez aangekla is.

Regter Camille Velez het beveel dat die 27-jarige Verdejo in aanhouding bly in afwagting op sy pleitverhoor, het die plaaslike koerant El Nuevo Dia berig.

Verdejo, wat getroud is en ook in ’n verhouding met Rodriguez was, het die slagoffer na bewering op 29 April ontvoer nadat sy hom meegedeel het dat sy swanger is. Hy het glo die hulp van ’n ander persoon gevra om Rodriquez se swangerskap te beëindig.

Verdejo het Rodriquez (27) glo met die vuis in die gesig geslaan waarna hy haar met ’n middel ingespuit het. Rodriquez se hande en voete is vasgebind voor sy oor ’n brug in ’n strandmeer in San Juan gegooi is. Verdejo het Rodriguez toe ook geskiet nadat sy reeds in die water was.

Die FBI het bewyse gekry dat Verdejo en Rodriquez die dag van die ontvoering oor die foon gekommunikeer het. Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras wys ook ’n motor wat soortgelyk is aan die van Verdejo waar dit op die brug gestaan het waar Rodriquez glo oorgegooi is.

Rodriquez is Donderdag as vermis aangemeld en haar liggaam is Saterdag in die San Jose-strandmeer gevind.

Die voorval het protesoptogte in Puerto Rico tot gevolg gehad. Pedro Pierluisi, goewerneur van Puerto Rico, het in Januarie ’n noodtoestand afgekondig rakende die kwessie van geweld teen vroue.

Verdejo het Puerto Rico by die 2012 Olimpiese Spele in Londen verteenwoordig en het in sy loopbaan 27 oorwinnings in die bokskryt aangeteken.

Verdejo kan die doodstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word op die aanklagte teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariaan ·

Sies..geen respek vir n vrou en kind nie…mag jy jou straf kry!! In elk geval beteken n man soos jy niks in die samelewing nie!

Dorkie ·

Dit is nie reg nie, die man moet goed gestraf word!!
Ek is ‘n vrou en ek wens ander vrouens en meisies neem voorbehoed middels. ‘n Baba gaan nooit vir jou ‘n goeie man vang nie. Mans dink nie aan hierdie goed nie. Dames julle moet mooi dink. Hierdie is ‘n jare lange probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.