Olimpiese Spele: Parys ontken veiligheidsplanne is gesteel

Dié foto met ʼn kringtelevisiekamera is geneem van die dak van die Montparnasse-toring in Parys (23 Februarie 2024) (Foto: Martin Bureau/AFP)

Die burgemeester van Parys, Frankryk, het Woensdag ontken dat veiligheidsplanne vir die Olimpiese Spele by een van sy werknemers gesteel is.

ʼn Bron in die polisie het aan AFP en die BFM-nuuskanaal gesê ʼn USB-stokkie, wat planne vir die munisipale polisie bevat vir die Olimpiese Spele, het verdwyn toe ʼn werknemer van die stadsraad se sak op ʼn trein gesteel is.

Die werknemer het die sak op ʼn bagasierak bo sy sitplek neergesit. Hy het Maandagaand by die besige Gare du Nord-stasie ontdek die sak het spoorloos verdwyn.

Die stadsraad het Woensdag in ʼn verklaring gesê dat “aanvanklike ondersoeke bepaal het dat die werknemer nie in besit was van enige inligting oor die organisering of die ontplooiing van veiligheidsmagte tydens die Olimpiese Spele of Paralimpiese Spele nie”.

Die raad het bevestig dat ʼn klag by die polisie aanhangig gemaak is oor die diefstal. Die verlore items bevat glo “persoonlike notas wat met sy werk verband hou in IT-ondersteuning vir die departement van paaie en vervoer”.

Die staatsaanklaer se kantoor het ook gesê die USB-stokkie “het slegs notas bevat oor padvervoer in Parys tydens die Spele”, en nie enige sensitiewe veiligheidsinligting nie.

Die werknemer sal na verwagting ondersoek word om te bepaal of hy enige interne reëls verbreek het deur met die USB-stokkie te reis, aldus die verklaring deur die stadsraad.

Sowat 35 000 veiligheidsmagte sal na verwagting elke dag aan diens wees vir die Spele tussen 26 Julie en 11 Augustus, insluitend sowat 2 000 munisipale polisiebeamptes van die hoofstad.

Die Paralimpiese Spele is geskeduleer van 28 Augustus tot 8 September.

Benewens die beheer van skares en om straatmisdaad te voorkom, sal die polisie ook op hoë gereedheid wees vir moontlike terreurplanne met Frankryk wat ʼn gereelde teiken is vir Islamitiese ekstremiste die afgelope dekade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.