Ondersoek na ‘Titan’-tragedie begin

Die Amerikaanse kuswag het Donderdag aangekondig dat al vyf mense aan boord van die onderwatervaartuig dood is ná ʼn “katastrofiese inploffing”. (Foto: Joseph Prezioso/AFP)

Kanadese owerhede sê hulle gaan begin met ʼn ondersoek na die afgelope week se inploffing van die Titan-duikboot wat die lewe van vyf mense geëis het. Die duikboot was op ʼn ekspedisie na die wrak van die Titanic.

Die Polar Prince – onder die Kanadese vlag – het die Titan verlede week na die diepsee gesleep, maar sowat ʼn uur en 45 minute nadat die duikboot begin daal het, het die skip kontak daarmee verloor.

Die Kanadese vervoerveiligheidsraad sê “as die ondersoekende owerheid van die vlag waaronder die ondersteuningstuig gevaar het”, sal hy “ ʼn veiligheidsondersoek rakende die omstandighede van die operasie doen”.

Die Amerikaanse kuswag het Donderdag aangekondig dat al vyf mense aan boord van die onderwatervaartuig dood is ná ʼn “katastrofiese inploffing”.

ʼn Wrakstukveld is op die seebodem gevind, sowat 500 meter van die boeg van die Titanic.

Die sombere aankondiging het ʼn multinasionale soek-en-reddingsoperasie beëindig wat die verbeelding van miljoene mense aangegryp het sedert die piepklein toerisme-tuig vier dae tevore in die Noord-Atlantiese Oseaan verdwyn het.

OceanGate Expeditions se Titan-tuig.

Die raad doen roetine‑ondersoeke na lug-, spoor-, mariene en pyplynongelukke met die oog op die verbetering van vervoerveiligheid. Dit lê nie blaam voor enige deur nie en bepaal ook nie siviele of strafregtelike aanspreeklikheid nie.

Die onafhanklike agentskap sê hy het ondersoekers na St. John’s in Newfoundland, van waar die Polar Prince gevaar het, gestuur om “inligting in te samel, onderhoude te voer en die gebeurtenis te assesseer”.

“In die komende dae sal ons bedrywighede met dié van ander betrokke agentskappe gekoördineer word,” het raad in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.