Ontdek geheime van olifante met dié dokkie-reeks

Daar is tans sowat 25 groottand-olifante oor. (Foto: National Geographic vir Disney/Nichole Sobecki)

Ondersteuning, vriendskappe en sterk bande; dit is van die redes waarom olifante in tye van droogte, en te midde van stropery en habitatverlies kan voortbestaan.

Hierdie grootvoete het ʼn wysheid wat van geslag tot geslag oorgedra word en wat die sleutel dra tot hul oorlewing.

In die eerste episode van die dokumentêre reeks Secrets of the Elephants word kykers vroeg gekonfronteer met een van ʼn trop olifante se grootste uitdagings: hoe en waar om die 140 liter water te vind wat hulle bykans daagliks benodig.

ʼn Trop Afrika-olifante staan bokant ʼn krans van 183 meter hoog. Die matriarg van die trop moet al die olifante teen die krans aflei, op soek na die naaste rivier. Water is besonders skaars want ʼn voortslepende droogte teister Zimbabwe se vlaktes waar hierdie olifante gewoonlik rondswerf.

Olifante se lywe van drie tot vier ton is nie gebou vir die soort ekspedisie nie – as kyker voel jy skoon duiselig en jou bene bewe om die toneel te aanskou – hoeveel erger nog moes dit vir die reuse van die grasvlaktes wees om die paadjie aan te durf.

Tog rol die olifante hulle slurppunte in vuiste en toets die grond soos hulle versigtig – poot vir poot – die afdraande aanpak.

Jong olifante en kalwers word tussen die groter koeie ingehok om te keer dat hulle val. Baba-olifante word met sterte gestreel om hulle aan te moedig om die moeilike pad te volg.

Die ikoniese Chilojo-kranse kan in die verte van die afgeleë Gonarezhou Nasionale Park, Zimbabwe, gesien word. Dit is teen hierdie steil kranse wat die olifante hulle weg gevind het. (Foto: National Geographic vir Disney/Freddie Claire)

Almal is gespanne terwyl die steil paadjie teen die kloof af genavigeer word, insluitende die natuurlewekenners en rolprentmakers wat van die kantlyn die tog op film moet vaslê.

Vir dr. Paula Kahumbu, ʼn veteraanbewaarder van Kenia en ‘n olifantkenner, was dit ongelooflik om self te sien hoe die olifante die moeilike paadjie aangedurf het. Sy het in die 30 jaar wat sy met olifante werk nog nooit gesien hoe hulle op dié wyse in ʼn steil kloof af stap nie.

Dr. Paula Kahumbu sien hoe ‘n jong olifantbul in Na’an Ku Se se radiohalsband losgemaak word. (Foto: National Geographic vir Disney/Robbie Labanowski)

Volgens Kahumbu is vergelding en onverdraagsaamheid teenoor olifante verreweg die grootste bedreiging vir die diere regoor Oos-Afrika.

Die meeste van Afrika se olifante kom voor in die oostelike en suidelike deel van die vasteland in verskeie habitatte. Die Internasionale Unie vir Natuurbewaring lys beide Afrika-olifante as kritiek bedreig; die aantal Afrika-woudolifante het oor die afgelope 31 jaar met meer as 86% afgeneem en die olifante van die vasteland se grasvlaktes het met 60% oor die afgelope 50 jaar afgeneem. Asiatiese olifante word ook as bedreig gelys, met ʼn geskatte 48 000 tot 50 00 wat in die natuur oor is.

Die reeks ondersoek die spanning tussen twee van die slimste landlopende soogdiere – olifante en mense – maar veel belangriker, kyk ook na die treffende ooreenkomste tussen die spesies wat al jare lank sy aan sy woon.

Spesie wat bly verras met kennis en wysheid

Olifante is ongelooflike probleemoplossers en weerspieël op ʼn manier mense se aanpasbaarheid so goed dat hulle enige afskrikmiddel of hindernis kan oorkom wat mense uitdink om hulle op ʼn afstand te hou.

Die olifante dra hul kennis van geslag na geslag oor en terwyl hulle een van die diersoorte is wat wetenskaplikes al die meeste bestudeer het, bly olifantkundiges verras oor hul unieke eienskappe en komplekse gedrag.

Olifante word selde siek en is bekend daarvoor dat hulle self medikasie vind in die plante rondom hulle.

Kahumbu beskyf die olifantmatriarge as die kennishouers wat weet waar om kos en water te vind en waar om veilig te rus, terwyl hulle interne kaarte stoor van die uitgestrekte landskappe wat hulle deurkruis.

Die reeks wys ook hoe olifantkoeie die kennis van generasies gebruik en dit aanpas by uitdagings en veranderinge wat hulle in die gesig staar.

In een seldsame geval bevind ʼn olifant in Zimbabwe haarself nou op die ouderdom van 50 as die matriarg van ʼn trop buffels. Nzou het haar hele trop verloor na datstropers hulle uitgewis het toe sy maar net twee jaar oud was. Daar is gepoog om Nzou by ander troppe te laat aanpas maar sy het nooit ʼn heenkome tussen olifante gevind nie.

Nou lei en kommunikeer sy haar eie vreemde familie van buffels waar sy ʼn gelukkig tuiste gevind het.

Die olifantkenner, dr. Joyce Poole, bestudeer reeds dekades lank olifante. Saam met haar man het sy ‘n ‘n olifant-etogram geskep, ‘n omvattende biblioteek van duisende voorbeelde van olifantegedrag. (Foto: National Geographic vir Disney/Wim Vorster)

Dr. Joyce Poole, wat sedert die 1970’s met olifante werk en ʼn toonaangewende stem vir die bewaring en welstand van olifante is, vertel op haar beurt van die fassinerende kommunikasievermoë van olifante.

In die dekades wat sy reeds olifantgedrag waarneem en afluister, het sy 30 verskillende klanke, onder meer ʼn getrompetter, dreunings, huilklanke, brulle en snorke by die diere waargeneem, wat kenmerkende taal is.

“Hierdie is nie net geraas nie, elke klank het betekenis en dit is dié kommunikasie wat die gom word wat die lede van ʼn trop bymekaar hou.”

Van die roggelende dreunklanke wat ʼn olifante maak kan tot 106 desibel hard wees; soortgelyk aan die geraas van hamerboor. Dit het egter so ʼn lae frekwensie dat mense dit nie kan hoor nie, maar olifant kan die vibrasie tot sover as 2 km ver deur hulle pote en slurpe optel.

Poole hoop dat ʼn reeks soos hierdie kykers opnuut bewus maak van hierdie intelligente diere se denke, gevoelens en behoeftes, soortgelyk aan dié van mense, en dalk inspireer dit jong mense om nuut te dink oor hoe ons die grootvoete kan bewaar vir die nageslagte.

‘n Jong olifant van die Planesberg Nasionale Park in Noordwes. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

James Cameron is die Oscar-bekroonde rolprentmaker en National Geographic-ontdekkingsreisiger wat kykers op reis deur die wêreld neem – van die grasvlaktes van Afrika tot die stedelike landskappe van Asië – om die strategiese denke, komplekse emosies en gesofistikeerde taal van olifante te ontdek. Natalie Portman is die verteller van die reeks.

Die ander episodes in die reeks fokus op die ware woestynolifante van Afrika en hoe hulle perfek aangepas is vir die ongenaakbare wêreld waarin hulle hulself bevind; Afrika-woudolifante en hul vermoë om landskapargitekte te wees word ook ondersoek; terwyl kykers ook sien hoe Asië se olifante leer om aan te pas te midde van mense wat al hoe meer dié olifante se habitatte betree.

  • Deel self in die geheime van die olifante deur Secrets of the Elephants op Saterdag 22 April om 18:45 op Disney+ te stroom. Al vier episodes van die reeks kan terselfdertyd ook op Nationale Geographic Wild (DStv 182) gesien word.

Tessa Barlin is ’n wildlewefotograaf, dokumentêre rolprentmaker en ’n National Geographic-ontdekkingsreisiger met ’n passie om stories van mense en die natuur op kamera vas te vang. Barlin se rolprente het verskeie internasionale toekennings verower en inspireer steeds plaaslike gemeenskappe om deel te neem aan natuurbewaring.

Sy het Maroela Media meer oor wildlewefotografie vertel. Kyk hier na die onderhoud:

Kyk die lokprent van dié reeks hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.