Opposisie boos oor ‘verkiesingsbedrog’ in Mosambiek

Ondersteuners van Mosambiek se grootste opposisieparty, Renamo, betoog in Maputo. (Foto: Alfredo ZUNIGA / AFP)

Traangas is vandeesweek gebruik om oproerige betogers in Maputo te verjaag te midde van bewerings oor verkiesingsbedrog.

Dít nadat ʼn tiener dae gelede (ook te midde van die voortslepende onrus) per ongeluk deur polisiebeamptes doodgeskiet is.

Sowat 48 miljoen Mosambiekers het verlede Woensdag hul kruisies in die land se munisipale verkiesing getrek en Frelimo, die regerende party, het die oorwinning behaal in die meeste dorpe waar die stemme reeds getel is.

Die land het 65 munisipaliteite en daar word in dié stadium nog gewag op die finale verkiesingsuitslag.

Mosambiek se grootste opposisieparty, Renamo, ʼn voormalige rebellegroep, betwis egter nou die voorlopige uitslae. Die party eis veral die oorwinning op in die hoofstad waar Frelimo reeds as wenner aangekondig is.

Luidens die voorlopige uitslag het Frelimo meer as 58% van die stemme in Maputo teenoor Renamo se 33% verower.

Die Amerikaanse ambassade in Maputo sê egter “daar is heelwat geloofwaardige verslae van onreëlmatighede op stemdag en tydens die stemtabuleringsproses”.

“Ons doen weer eens ʼn beroep op alle Mosambiekers om deel te neem aan ʼn algemene betoging om verkiesingsbedrog te verwerp. Dit is die begin van die rewolusie in Mosambiek,” het Ossufo Momade, president van Renamo, Dinsdag aan ʼn oproerige skare in Maputo gesê.

ʼn 16-jarige seun is verlede Donderdag – ʼn dag ná die munisipale verkiesing – tydens die onrus in die Chiure-distrik van die Cabo Delgado-provinsie deur die polisie doodgeskiet.

Die voorval het plaasgevind toe ondersteuners van Renamo besig was om hul oorwinning te vier. Polisiebeamptes hou vol hulle het die seun “per ongeluk” geskiet toe hulle betogers verjaag het.

“Alle lede wat by onwettige praktyke betrokke is, sal aanspreeklik gehou word indien daar bewyse is,” het die verkiesingskommissie van Mosambiek Dinsdag op ʼn perskonferensie benadruk.

Frelimo en Renamo was van 1977 tot 1992 in ʼn wrede burgeroorlog gewikkel. Sedert die einde van die oorlog het Frelimo elke nasionale verkiesing gewen en beheer behou oor ʼn groot meerderheid munisipaliteite in die voormalige Portugese kolonie wat in 1975 onafhanklik geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Dit lyk my hulle klou aan MAG! cANCer sal seker ook in 2024 so probeer klou. Verkiesings bedrag is volop in Afrika.

Hendrik ·

Ons hier in SA sal maar seer seker gedurig daarvan bewus moet wees net soos al die ander Afrikalande is SA ook nou n Afrikaland. Regering verandering blyk n onmoontlike saak te wees.

christo ·

Indien ‘n Afrika regering aan bewind gekom het, sal hulle alles moontlik doen om aan hulle mag te klou. In SA gaan dit ook dieselfde geval wees.

Cherokee ·

Wanneer is dit rebellegroepe en wanneer praat ons van terroriste? Of is dit bloot selektiewe taalgebruik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.