Osaka-pop vlieg van rakke af

‘n Barbie-pop is na tennisspeler Naomi Osaka se beeld gemodelleer vir die Role Model-reeks. (Foto: Mattel)

ʼn Nuwe Barbie-pop wat op die tennisster Naomi Osaka geskoei is, het Maandag uitverkoop slegs ure nadat dit uitgereik is.

Volgens ʼn mediaverklaring deur die speelgoedmaatskappy Mattel is dié nuwe pop deel van die Barbie Role Model-reeks en kom sy met ʼn Yonex-tennisraket.

Die pop dra ook ʼn Nike-tennisrok en wit pet. Osaka het op Twitter gesê sy het dié uitrusting verlede jaar by die Australiese Ope gedra.

“Ek hoop dat elke kind daaraan herinner word dat hulle enigiets kan wees en doen,” het sy op Twitter bygevoeg.

Die 23-jarige het in 2018 haar eerste Grand Slam-titel gewen en het daarna nog drie keer die titel ingeoes. Sy is ʼn uitgesproke figuur in professionele tenniskringe en raak gereeld aan kwessies soos menseregte, rasongelykheid en geestesgesondheid tydens onderhoude.

Barbie het ontwerper Carlyle Nuera aangestel om die pop te maak, en hy het van sy bewondering vir Osaka gepraat.

“Uiteraard is Naomi se atletiese vaardighede ongeëwenaar; dit is ʼn feit,” het Nuera in die verklaring gesê.

“Wat ek persoonlik van haar bewonder, is hoe sy haar platform, kollig en stem gebruik om bewustheid oor sosiale geregtigheid te skep.”

Dit is die tweede keer wat Osaka saam met Barbie werk, nadat sy in 2019 verskyn het as een van die handelsmerk se Shero-poppe.

Naomi Osaka in 2018. (Foto: Mark Baker, AP)

Die stromingsdiens Netflix het vroeër vandeesmaand ʼn lokprent uitgereik vir ʼn nuwe dokumentêre reeks getiteld Naomi Osaka, wat fokus op haar lewe en hoe sy sukkel sedert sy in die openbare oog beland het.

Osaka het Wimbledon misgeloop, maar beplan om terug te keer na die baan by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, later vandeesmaand.

Naomi Osaka, wat persoonlik deur die tennisspeler vertel word, is ʼn terugblik op haar grootwordjare en hoe sy in 2018 die Amerikaanse Ope gewen het wat haar oornag in ʼn superster verander het.

Die Japannese wêreldnommer 2-speler het onthul dat sy aan “lang depressieaanvalle” gelei het sedert sy haar eerste Grand Slam-titel in 2018 gewen het. Die reeks sal op 16 Julie op Netflix debuteer.

Osaka sal terugkeer na kompeterende tennis by die Olimpiese Spele in Tokio nadat sy haar aan die Franse Ope onttrek het weens geestesgesondheidskwessies. Sy het later aangekondig dat sy haar ook aan vanjaar se Wimbledon-toernooi onttrek.

Bron: CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Dis nou die een wat by Ronald-Garros uitgeloop het en glad nie Wimbledon gespeel het nie, want sy wil nie met die pers te doen he nie?

Nico ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n mens so op gehemel word, dit is uiters swak van die speelgoed maatskappy om dit te doen.

Elinette ·

As sy dan sukkel met “geestesgesondheidskwessies” a.g.v. haar bekendheid nadat sy ‘n paar Grand Slams gewen het, waarom neem sy nog deel? Niemand DWING haar om op internasionale vlak aan ‘n gewilde sportsoort deel te neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.