Pensioenbetogings duur voort in Frankryk

Vakbonde betoog teen pensioenhervormings in Frankryk (6 April 2023) (Foto: Thomas Samson/AFP)

Betogers het Donderdag in Frankryk weer die strate ingevaar oor pres. Emmanuel Macron se pensioenhervorming ná onlangse gesprekke tussen die regering en vakbonde vasgeval het.

Macron, tans op besoek in China, beleef die grootste uitdaging van sy tweede ampstermyn met die pensioenhervormings. Dit sluit in om die aftreeouderdom van 62 jaar na 64 jaar te verhoog en te eis dat mense langer werk voor hulle ʼn volledige uitbetaling kan ontvang.

Alle kante in die saak wag tans op ʼn uitspraak op 14 April oor die geldigheid van die hervorming deur Frankryk se konstitusionele raad. Dié raad het die mag om sommige of selfs alle wetgewing te skrap.

Alhoewel die raadslede ʼn besluit sal neem gebaseer op ʼn streng interpretasie van die wet, wil vakbonde wys dat die betogers nog gemotiveer is.

“Ons is in die middel van ʼn maatskaplike krisis, ʼn demokratiese krisis,” het Laurent Berger, hoof van die CFDT-vakbond aan RTL-radio gesê. “Dit is ʼn probleem wat deur die president opgelos moet word.”

Betogings is landswyd gehou en mense het plakkate omhoog gehou of vlae geswaai van Nantes in die weste tot by die suidelike kusstede soos Montpellier en Marseille.

“Ons het nog nie opgegee nie en ons is ook nie van plan om op te gee nie,” het die 50-jarige staatsamptenaar Davy Chretien gesê toe hy in Marseille betoog het.

Daar is tekens dat die twee en ʼn half maande lange protesbeweging begin om momentum te verloor en vakbonde hoop dat daar ʼn groot opkoms sal wees op die 11de dag van aksie sedert Januarie.

Baie van die betogings het in geweld ontaard toe eerste minister Elisabeth Borne op 16 Maart ʼn omstrede uitvoerende mag uitgevoer het om die wetsontwerp sonder ʼn stemmery deur die parlement te stoomroller.

Stakende spoorwegwerkers het Donderdag deur die voormalige hoofkwartiere van Credit Lyonnais-bank in Parys gestorm – ʼn bekende gebou waar maatskappye soos BlackRock-beleggings nou geleë is.

Frankryk se agt groot vakbonde het gesê ʼn vergadering met Borne was ʼn “mislukking” toe sy geweier het om die aftreeouderdom te bespreek.

Dit was die eerste gesprek van sy soort sedert die regering die omstrede wetsontwerp in Januarie voorgelê het.

Macron is vir die res van die week in China.

Altesaam 1,2 miljoen mense het op 7 Maart teen die hervorming betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pampoen ·

Die mense weet nie hoe bevoorreg hulle is nie. By ons moet jy maar werk of vrek van die honger. Al hoe minder mense tree af. Ek kom nou net van die klerewinkel af. Die ou wat my gehelp het is 75 jaar oud.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.