Poetin aanvaar uitnodiging na Noord-Korea

Wladimir Poetin en Kim Jong-un skud blad. (Foto: Vladimir SMIRNOV / POOL / AFP)

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het ʼn uitnodiging van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, aanvaar om Noord-Korea te besoek.

Die twee leiers het Woensdag elkeen vir mekaar ʼn wapen as geskenk gegee toe hulle in die verre ooste van Rusland tydens ʼn beraad vergader het.

“Poetin het [vir Kim] ʼn geweer van die hoogste gehalte van ons vervaardigers gegee. In ruil daarvoor het hy ook ʼn Noord-Koreaans vervaardigde geweer ontvang,” het Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, Donderdag gesê.

Poetin het ook ʼn “handskoen van ʼn ruimtepak wat al verskeie kere in die ruimte was” aan die Noord-Koreaanse leier geskenk.

Daar is vooraf bespiegel dat Poetin en Kim op ʼn onwettige wapentransaksie sou ooreenkom. Rusland is gretig vir ammunisie om sy oorlog teen Oekraïne voort te sit. Noord-Korea is op soek na Moskou se hulp om sy missielprogram te ontwikkel.

Kim, wat selde sy land verlaat, het samesprekings met Poetin by die Vostochny-ruimtevlugsentrum gevoer.

Volgens die Kremlin sal die Noord-Koreaanse leier se besoek aan Rusland se verre ooste “nog ʼn paar dae duur”.

Peskov het intussen gesê Sergei Lavrov, die Russiese minister van buitelandse sake, sal na verwagting in Oktober na Noord-Korea reis. Die nodige reëlings vir Poetin se besoek aan dié land sal daarna getref word.

Dit sal slegs Poetin se tweede besoek aan Noord-Korea wees ten spyte daarvan dat die twee lande ʼn kort grens deel.

Die Russiese leier het Pyongyang in Julie 2000 besoek om Kim se pa, Kim Jong-il, te ontmoet.

Rusland trotseer nou meer as twee dekades later ʼn ongekende isolasie van die Weste oor sy oorlog teen Oekraïne. Poetin poog nou om die alliansies van die Sowjet-era te bevorder.

Kim se besoek aan Rusland is sy eerste buitelandse reis sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het.

Albei lande is tans aan ʼn reeks sanksies onderhewig, terwyl Kim se besoek wydverspreide kommer oor onwettige wapenooreenkomste ontlok het.

Poetin het intussen aan verslaggewers gesê hy sien “moontlikhede” vir militêre samewerking.

Die hoof van Suid-Korea se regerende party het sedertdien wat hy noem “ʼn duiwelse ooreenkoms” gekritiseer, terwyl Japan gewaarsku het teen enige oortredings van die VN se verbod op wapentransaksies met Noord-Korea ná die Poetin-Kim-beraad.

“Ons hou [die samesprekings] met kommer dop, insluitend die moontlikheid dat dit kan lei tot oortredings van die Veiligheidsraad se verbod op alle wapenverwante materiële onderhandelinge met Noord-Korea,” het Yoko Kamikawa, die Japannese minister van buitelandse sake, aan verslaggewers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die V word W uitgespreek in Russies. Putin word Poetin uitgespreek. Dan is dit Putt In. Dit sal Wladimir Poetin ongelukkig maak.

Nommer 7 ·

Volgens die afrkikaanse spelreeels is dit korrek. Skryf soos dit in afrikaans uitgespreek word.

Grassie ·

‘n Mens se naam is jou naam – solank ons alfabet gebruik word dink ek dit is verkeerd om ‘n naam se spelling te verander. Ek stem dus saam met jou.

Euodia ·

Daai twee kommuniste maak ‘n oulike paartjie nou moet Ramarosie nog net bykom dan is hulle voltooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.