Pous uit hospitaal ontslaan; sterk goed aan

Pous Franciskus is Vrydag uit die hospitaal ontslaan. (Foto: Alberto Pizzoli / AFP)

Pous Franciskus is Vrydagoggend uit die hospitaal ontslaan nadat hy vroeër ʼn breukoperasie ondergaan het.

Hy is nege dae in die Gemelli-hospitaal in Rome behandel.

Volgens Sergio Alfieri, die chirurg wat die operasie uitgevoer het, gaan dit “baie goed met die pous” en is hy selfs sterker as voorheen.

Die pous het ʼn glimlag op sy gesig gehad toe hy vanoggend in ʼn rolstoel by dié hospitaal uitgestoot is, waar verskeie aanhangers buite saamgedrom het. Op ’n vraag oor hoe hy voel, het die pous geskerts “ek lewe nog”.

Die 86-jarige Franciskus sukkel sedert 2013 met sy gesondheid, insluitend heupprobleme, kniepyn en respiratoriese infeksies.

Hy het op 7 Junie vanjaar ʼn drie uur lange operasie ondergaan om ʼn pynlike breuk te herstel.

Dokters sê hy was egter vrolik toe hy ná die operasie wakker geword het, en dat hy grappies met die mediese span gemaak het.

Dit is die derde keer sedert 2021 wat die pous in ʼn hospitaal behandel is.

Die meeste van die pous se amptelike pligte is tot 18 Junie gekanselleer of uitgestel om hom genoeg tyd te gee om te herstel.

Sy agenda is glo besonder vol oor die komende maande, met reise na Portugal en Mongolië in Augustus.

Die program vir sy besoek aan Portugal van 2 tot 6 Augustus vir Wêreldjeugdag in Lissabon is stampvol, met sowat 20 vergaderings en ʼn hele aantal geleenthede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.