Prins Harry los lastersaak teen Britse koerant

Prins Harry en sy vrou, Meghan. (Foto: Rolf Vennenbernd/DPA/AFP)

Prins Harry het sy lastersaak teen die Britse koerant Mail on Sunday laat vaar, het die publikasie Vrydag bekend gemaak. Die vervreemde koninklike voer egter steeds ʼn regstryd teen verskeie ander mediagroepe.

Harry het die eis ingestel ná ʼn artikel oor sy ander regstryd met die Britse regering oor veiligheidsreëlings vir hom en sy gesin terwyl hulle in Engeland is.

Die prins, wat nou saam met sy vrou, Meghan, in die VSA woon, het daardie saak laat vaar omdat hy verskeie dokumente sou moes indien wat in die verhoor aan die lig sou kom, het die MailOnline berig.

“Vandag [Vrydag] was die spertyd vir albei kante om ʼn lys van alle tersaaklike dokumente voor te lê,” lui die berig.

“Pleks daarvan, om 10:06 [12:06 SA tyd], het Harry se regsverteenwoordigers die koerant ingelig dat hulle ʼn kennisgewing by die hof ingedien het wat lui dat die ‘hertog van Sussex die hele eis opskort’.”

Die koerant het berig dat die 39-jarige Harry die publikasie £250 000 (sowat R6 miljoen) sou moes betaal, tesame met sy eie regskoste. Dit sou na raming meer as £750 000 (sowat R18 miljoen) beloop het.

Harry het die koerant gedagvaar oor ʼn artikel dat sy beeldpoetsspan dit so probeer bewimpel het dat dit lyk of hy aangebied het om persoonlik vir polisiebeskerming te betaal, ʼn stelling wat die Britse departement van binnelandse sake betwis. Die departement voer aan hy het in daardie stadium geensins so ʼn aanbod van Harry ontvang nie.

Harry se regspan het regter Matthew Nicklin gevra om sonder ʼn verhoor in sy guns te beslis, maar die aansoek is verwerp.

Die prins het ʼn stormagtige verhouding met die media en hou hulle verantwoordelik vir die dood van sy ma, wyle prinses Diana, wat in 1997 in ʼn motorongeluk in Parys dood is terwyl sy die paparazzi probeer ontduik het.

Harry en Meghan het hulle in 2020 aan koninklike pligte onttrek en na Kalifornië in die VSA verhuis, en die skuld vir dié skuif gedeeltelik op die media gepak.

Die prins het onderneem om dit sy lewenstaak te maak om die Britse media te hervorm en is gewikkel in verskeie geskille met Britse poniekoerante.

Die hooggeregshof in Londen het in Desember beslis dat Harry die slagoffer was van joernaliste wat vir die Mirror Group Newspapers (MGN) gewerk het wat sy foon gekuberkraak het en is £140 600 (sowat R3,3 miljoen) in skadevergoeding toegeken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die arme man se lewe word oorheers deur konflik situasies. Dan maak hy groot vyande met die media en dis nie goed as jy by hulle ongewild is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.