Prins Philip na ander hospitaal vir harttoetse

Prins Philip is Maandagoggend per ambulans na ‘n ander hospitaal in Londen oorgeplaas waar hy toetse vir ‘n harttoestand sal ondergaan (Foto: Tolga Akmen, AFP)

Engeland se prins Philip, koningin Elizabeth II se man, is Maandag na ’n ander hospitaal in Londen oorgeplaas waar hy toetse vir ’n bestaande harttoestand sal ondergaan. Dit volg nadat die hertog van Edinburg (99) byna twee weke gelede olik begin voel het en “as voorsorgmaatreël” in ’n hospitaal in Londen opgeneem is.

Die Buckingham-paleis sê in ’n verklaring prins Philip is Maandagoggend per ambulans van die King Edward VII-hospitaal, waar hy die afgelope 14 dae deurgebring het, na die St. Bartholomew-hospitaal in Londen geneem. Die St. Bartholomew-hospitaal is bekend vir sy uitnemende hart- en kankerbehandeling.

“Hy gaan steeds vir ’n infeksie behandel word, terwyl hy terselfdertyd onder waarneming geplaas word sodat dokters sy harttoestand kan monitor. Hy sal ook toetse vir dié toestand ondergaan,” sê die paleis.

Volgens die paleis reageer die hertog goed op die behandeling, maar sal na verwagting tot minstens die einde van die week in die hospitaal bly.

Prins Philip (Foto: Adrian Dennis, AFP)

Hy het in 2011 ’n operasie ondergaan om ’n stent in sy hart te laat plaas nadat een van sy slagare verstop het.

Maroela Media het vroeër berig prins Philip se oorspronklike hospitaalopname hou nie met Covid-19 verband nie. Daar is later bekend gemaak dat hy wel vir ’n infeksie behandel word, maar die paleiswoordvoerder het nie oor die infeksie uitgebrei nie.

Prins Philip word in Junie 100 jaar oud. Sy langdurige verblyf in die hospitaal het kommer laat ontstaan juis weens sy ouderdom.

Sy jongste seun, prins Edward, het verlede week gesê sy pa voel “baie beter” en sien uit daarna om terug te keer huis toe. Sy kleinseun, prins William (38), het verlede Maandag gesê sy oupa is “oukei” en sy gesondheid word dopgehou.

Sy oudste seun, prins Charles, het sy pa ook in die hospitaal besoek, maar nie kommentaar gelewer oor sy gesondheidstoestand nie.

Prins Philip en koningin Elizabeth (94) het albei op 9 Januarie hul eerste dosis Covid-19-inenting ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rentia ·

Daardie ouderdom is genade alleen. Hoop en glo jy sal gou beter word! Baie sterkte en kyk op – jou hulp kom van bo…

PersHeks ·

Drom die joernaliste soos ‘n spul aasvoëls om die ambulans! Geen genade vir oom Phillip al is hy nou siek!!!

Jax ·

Liewe hemel tog. Wat is hierdie “gejaag” om so oud te word? Waarom is mense so bang vir die dood?
Ons lewe te lank! Met al die medisyne en prosedures is ons besig om die aarde oor te bevolk. Dis asof mense dwars oor die hele wêreld perspektief verloor oor die lewe hier en hierna.
Laat arme oom Phillip nou tog maar in vrede rus. Ek is nou nie snaaks of ongevoelig nie maar wie baat werklik daarby om iemand, kom wat wil, aan die lewe te hou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.