Prins William maak eerste verskyning ná Kate se kankeraankondiging

Prins William en prins George het Donderdagaand ʼn sokkerwedstryd tussen Aston Villa en Lille by Villa Park bygewoon. (Foto: Skermskoot)

Prins William het sy eerste openbare verskyning gemaak sedert sy vrou, Catherine, haar kankerdiagnose bekend gemaak het.

William en prins George (10) het Donderdagaand ʼn sokkerwedstryd tussen Aston Villa en Lille bygewoon.

Die 41-jarige Britse troonopvolger en sy seun het gelag en hande geklap terwyl hulle hul span (Aston Villa) aangemoedig het. Aston Villa het met 2-1 koning gekraai in die kwarteindstryd van die Europa Conference League.

William is ʼn kranige sokkeraanhanger en ondersteun Aston Villa vandat hy ʼn skoolseun was. Hy is ook die president van Engeland se sokkervereniging.

Dit is die eerste keer dat hy weer in die openbaar gesien is nadat Kate (42), soos sy alombekend is, verlede maand aangekondig het dat sy in die vroeë fase van chemoterapie is. Sy het in Januarie twee weke in die London Clinic deurgebring vir wat die paleis as ʼn buikoperasie beskryf het.

Die prinses van Wallis se kankernuus volg kort nadat koning Charles III, William se pa, onthul het dat hy behandeling vir ʼn ongespesifiseerde kanker ontvang.

Die koning voer sedertdien amptelike pligte agter geslote deure uit. Hy het egter oor Paasnaweek ʼn Paasfeesdiens bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.