Prinses Catherine ‘oorstelp’ deur ondersteuning

(Foto: Justin TALLIS / AFP)

Catherine, prinses van Wallis, sê sy is “oorstelp” deur die ondersteuning wat sy en prins William van reg oor die wêreld ontvang sedert haar skokonthulling dat sy vir kanker behandel word.

Kate, soos sy alombekend is, het Vrydag in ʼn roerende video aangekondig dat sy in die vroeë fase van chemoterapie is.

“Die prins en prinses is albei geweldig geraak deur die vriendelike boodskappe van mense hier in die Verenigde Koninkryk, reg oor die Statebond en oor die wêreld heen in reaksie op haar koninklike hoogheid se boodskap,” lui ’n verklaring.

“Hulle is uiters ontroer deur die publiek se warmte en ondersteuning en is dankbaar vir die begrip vir hul versoek om privaatheid in hierdie tyd.”

Koning Charles III, wat self enkele weke gelede onthul het dat hy ook met kanker gediagnoseer is, het intussen hulde aan sy “geliefde skoondogter” gebring.

Die 75-jarige monarg het gesê hy is trots op “haar moed om te praat soos sy het”.

BBC berig die hertog en hertogin van Sussex het intussen na die prins en prinses van Wallis uitgereik.

Prins Harry en Meghan het reeds openlik gesê hulle wens Catherine “gesondheid en genesing” toe.

Die prinses van Wallis word ook in die Britse poniekoerante vir haar moed geprys.

“Kate, jy is nie alleen nie,” het die voorblad van The Sun oor die naweek gelui.

“Miskien sal die wêreld nou besef hoekom haar operasie in Januarie in soveel geheimhouding gehul was,” lui die koerant se berig.

Maroela Media het vroeër berig Catherine is die laaste keer op Kersdag by ʼn openbare byeenkoms gesien toe sy saam met koning Charles III en ander senior koninklikes ʼn Kersdag-kerkdiens bygewoon het.

Die prinses het kort daarna in Januarie ingrypende abdominale chirurgie in Londen ondergaan. Kanker is eers ná die operasie by Catherine gediagnoseer.

Die prinses sê die kanker was ʼn “reuseskok”, maar dat dit met haar goed gaan en dat sy “elke dag sterker word”.

Die 42-jarige prinses het nie die presiese omvang van die diagnose bekend gemaak nie, maar het die laaste paar maande, sedert sy in die hospitaal opgeneem is, as “ongelooflik moeilik” vir haar en haar gesin beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokkies ·

Daar is meer as wat die koninklikes wil voorgee. Die video oor Kate lyk nie eg nie. Sy sit kamstig buite, maar niks in die agtergrond beweeg nie. Dalk n green screen?? Sy lyk ook nie natuurlik nie, lyk soos artificial intelligence (rekenaar geskepte beeld). Hoekom het die klokke gelui, dit word net gedoen vir n troue of dood, daar was nie n troue nie. Daar is meer vrae as wat daar antwoorde is.

Wondermaarnet ·

Mag sy herstel om haar klein kindertjies te sien grootword.

Danie ·

Ek hoop al die bemoeisieke en nuttelose goed is nou tevrede. Tragies dat jou lewe so leeg, sinneloos en vervelig is, dat jy die heeltyd in ander se lewens moet rondkrap…

Leeubekkie ·

Mag die Here haar genees en spaar, sodat sy haar kinders kan sien grootword….Sterkte prinses Catherine.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.