Prinses Charlene ontvang behandeling buite Monaco

Prinses Charlene en Prins Albert II van Monaco op 24 September 2020 op die Planetary Health-galageleentheid in Monte Carlo, Monaco. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)

Prinses Charlene van Monaco, vrou van prins Albert II, ontvang gespesialiseerde mediese behandeling vir uitermatige uitputting by ʼn vertroulike ligging buite die prinsdom, het ʼn bron na aan die paleis Dinsdag aan AFP gesê.

Die bron, wat anoniem wou bly, het bevestig dat Charlene nie meer in Monaco is nie nadat sy vroeër vandeesmaand uit Suid-Afrika na haar gesin teruggekeer het.

Sy het in September ʼn operasie in Suid-Afrika ondergaan nadat sy ineengestort het weens komplikasies van ʼn oor-neus-en-keel-infeksie.

Haar afwesigheid by Monaco se jaarlikse nasionale dag op 19 November, die grootste geleentheid op die paleis se kalender, het nuwe spekulasie aangevuur oor die stand van die egpaar se huwelik. Dit het ook bygedra tot nuwe kommer oor haar gesondheid.

“Prinses Charlene is al vir ʼn rukkie weg uit Monaco. Sy is in ʼn gespesialiseerde gerief opgeneem as gevolg van moegheid wat aan haar swakheid gekoppel word,” het die bron gesê, sonder om verdere besonderhede te verskaf.

Prins Albert het self aan People gesê dat Charlene (43) behandeling buite Monaco ontvang, maar het ook nie besonderhede oor haar gesondheidskwessies verskaf nie.

“Sy was duidelik fisiek en emosioneel uitgeput. Sy was oorweldig en kon nie haar amptelike pligte nakom of haar gesinslewe hanteer nie,” het die prins aan die tydskrif gesê.

Hy het bygevoeg dat Charlene se terugkeer na Monaco “goed verloop het” vir die eerste paar uur, maar dat dit “daarna duidelik geraak het dat sy nie gesond is nie”.

‘Ons mis jou, mamma’

Prinses Charlene en haar man, prins Albert II van Monaco, saam met hulle kinders, Gabriella en Jacques in Augustus vanjaar in Suid-Afrika. (Foto: Instagram/HSH Princess Charlene)

Albert (63) het gerugte oor hulle huwelik afgejak en gesê “dit het niks te make met ons verhouding nie” en dat “die probleem van ʼn ander aard” is.

Hy het kommer dat haar probleme aan kanker, Covid-19 of plastiese chirurgie gekoppel is, verwerp en gesê sy ly aan “ongelooflike uitputting” en dat sy “baie gewig verloor het” en nie goed eet nie.

Albert en Charlene se sesjarige tweeling, Gabriella en Jacques, het die nasionale dag se verrigtinge saam met Albert bygewoon.

Die kinders het handgeskrewe boodskappe wat lees “ons mis jou, mamma” en “ons is lief vir jou, mamma” vasgehou, wat sigbaar was vir die kameras terwyl hulle voor Albert op die balkon van die paleis gestaan en wuif het.

Die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer is in 2011 met prins Albert getroud nadat sy in 2006 vir die eerste keer saam met hom in die openbaar verskyn het by die Winter Olimpiese Spele in Turin, Italië.

Gerugte oor hulle huwelik spook egter by die egpaar sedert hulle getroud is en daar is selfs gegis dat Charlene probeer verdwyn het op die vooraand van hulle troue.

Albert is die seun van prins Rainier III en Grace Kelly, ʼn Amerikaanse rolprentster wat in 1982 in ʼn motorongeluk gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Delene ·

Voorwaar ‘n Vreemde Verhouding! Ander mense se boeke is duister!

E ·

Laat my dink aan die verhaal van die prinses en die ertjie, Charlene is ‘n sagte mens. Charlene hoop en bid jy herstel ten volle, wees sterk, ons hou jou in ons gebede.

madels ·

Ek dink nie Charlene was ooit agter geld aan nie. Jy maak baie onsensitiewe stellings

Catherina ·

Arme Charlene. Wens almal wil haar net uitlos dat sy kan herstel

Perdeby ·

Nog nooit gehoor van so ‘n verskriklike oor, neus en keel infeksie nie. Klink vir my soos ‘n Zuma siekte wat nie wil genees nie.

Delene ·

Ek ook nie! Klink vir my meer na emosionele uitputting! Sy was skaars terug in die Pink Paleis, toe word sy weer gepos om te gaan herstel.

JohanR ·

Hoekom het Prinses Charlene uitermatige uitputting? Is dinge maar moelik met ‘n man, die kinders en haar verantwoordelikhede as ‘n Prinses in Monaco?

miavos ·

Sy is ‘n ultra ongelukkige mens. Hoe het dit gekom dat sy in hierdie huwelik beland het? Dit was absoluut teen haar wil en wense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.