Prokureur skuldig aan moord op vrou, seun

Alex Murdaugh saam met sy vrou Maggie en seun Paul

Die Suid-Carolina-prokureur Alex Murdaugh is Donderdag skuldig bevind aan die moord op sy vrou en seun.

Die saak het wêreldwyd aandag getrek met ʼn dokumentêre reeks oor die gesin wat tans baie gewild op Netflix is.

Murdaugh (54), wat deel is van ’n elite-familie van regters en prokureurs in Suid-Carolina, is daaraan skuldig bevind dat hy sy seun Paul met ’n haelgeweer en sy vrou Maggie met ʼn aanvalsgeweer doodgeskiet het.

Murdaugh het in 2021, drie maande na die moord op sy vrou en seun, ʼn moordpoging op sy eie lewe gereël. Hy het ’n man betaal om hom te skiet sodat sy oorlewende seun ’n lewensversekeringsvoordeel van $10 miljoen (sowat R146 miljoen) kon ontvang.

Na die voorlesing van die uitspraak, wat die jurie na minder as drie uur bereik het, het die verdediging versoek dat die verhoor nietig verklaar word, maar regter Clifton Newman het die aansoek vinnig van die hand gewys.

“Die bewyse van skuld is oorweldigend,” het Newman gesê.

Murdaugh het min emosie getoon met die lees van die uitspraak voor hy in boeie uit die hofsaal gelei is.

Die jurie het gehoor Murdaugh het sy vrou en seun op 7 Junie 2021 vermoor nadat hy besef het dat sy jarelange plundertog van miljoene dollars van sy prokureursfirma en van kliënte om sy verborge opioïedverslawing te betaal, op die punt was om bekend te word.

Terwyl bewyse Murdaugh kort voor die moorde op die toneel geplaas het, is die moordwapens nooit gevind nie, en daar was geen bloedbevlekte klere of ander direkte bewyse wat kon bewys dat hy die moordenaar was nie.

Vonnisoplegging sal Vrydagoggend begin en Murdaugh word deur ’n minimum van 30 jaar tronkstraf en maksimum lewenslange tronkstraf vir elke aanklag van moord in die gesig gestaar.

Murdaugh het ontken dat hy Maggie (52) en Paul (22) vermoor het. Hy het getuig hoe hy op hul liggame afgekom het. Maggie is vyf keer geskiet en Paul is in die kop geskiet. Die beskuldigde het wel erken hy het geld verduister en gelieg oor sy dwelmverslawing, maar het gesê hy sal nooit lieg oor die moord op sy gesin nie.

Aanklaer Creighton Waters het aangevoer Murdaugh is ’n “meester-leuenaar” en het tydens die verhoor gefokus op die feit dat Murdaugh gelieg het toe hy aangevoer het dat hy die aand van die misdaad nie op die toneel was voordat hy op die liggame afgekom het nie. Daar is ’n video op Paul se selfoon gevind wat bewys het Murdaugh was sowat vyf minute voor die skietvoorvalle daar.

Die Netflix-dokumentêr oor die invloedryke familie het Amerikaners en kykers oor die wêreld heen geboei. Dit skets ʼn prentjie van ʼn familie wat hul mag misbruik het en betrek word by verskeie moorde. Dit sluit onder meer in die dood van die gesin se huiswerker en ʼn jong man wat dood in die pad gevind is.

Die gesin se ondergang het in 2019 begin toe Paul aangekla is in verband met ’n bootongeluk wat ’n 19-jarige vrou se lewe geëis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

melaney ·

Nie nodig om sulke aaklige nuus op Netflix te kyk nie. Hier arriveer dit om die uur, direk op my Whatsapp. Verniet.

Nettie ·

So waar. Hoe hartseer is dit nie dat ons in ‘n land bly waar so iets genormaliseer is tot ons daaglikse belewinge.

TruthDealer ·

Wow..Klink nie vir my of hierdie gesin se ondergang en afsterwes en lewenslange tronkstraf vd pa, nou juis n massiewe verlies vir die wêreld is nie. As ek ongevoelig klink is dit nou maar so. My opinie.

Phillip ·

Dit gebeur elke dag by ons niks hier verras ons hier mee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.