R Kelly skuldig bevind

R Kelly. (Foto: Nuccio DINUZZO / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / AFP)

Die Amerikaanse R&B-sanger R Kelly is skuldig bevind daaraan dat hy sy supersterstatus uitgebuit het om ʼn netwerk te bedryf om vroue en kinders oor die bestek van twee dekades seksueel te misbruik.

Elf klaers, onder wie nege vroue en twee mans, het tydens ʼn ses weke lange verhoor getuig oor die seksuele vernedering en geweld waaraan Kelly hulle glo onderwerp het.

Die jurie het Kelly ná twee dae se beraadslaging skuldig bevind op al nege aanklagte teen hom. Hy sal op 4 Mei volgende jaar gevonnis word en kan moontlik die res van sy lewe agter tralies deurbring.

Die jurie het bevind Kelly, wie se volle name Robert Sylvester Kelly is, was die leier van ʼn gewelddadige netwerk wat vroue en kinders gelok het om hulle eindelik seksueel te misbruik.

Daar is ook bevind die sanger, onder meer bekend vir die bekroonde liedjie “I Believe I Can Fly”, het met vroue gehandel tussen verskillende Amerikaanse state en het ook kinderpornografie vervaardig.

Benewens die agt aanklagte van sekshandel is Kelly ook skuldig bevind aan rampokkery, ʼn klag wat gewoonlik teen georganiseerde misdaadsindikate aanhangig gemaak word.

Tydens die verhoor het die beweerde slagoffers besonderhede gegee oor hoe die sanger se bestuurders, veiligheidswagte en ander lede van sy entourage hom in sy misdadige bedrywighede bygestaan het.

Een vrou, wat aanvoer dat Kelly haar opgesluit, bedwelm en verkrag het, het in ʼn geskrewe verklaring gesê dat sy “weggekruip” het vir Kelly weens dreigemente wat teen haar gemaak is nadat sy haar aantygings openbaar gemaak het.

“Ek is gereed om ʼn lewe vry van vrees te lei en om die genesingsproses te begin,” het die vrou, wat in die hof as Sonja geïdentifiseer is, gesê.

Lizette Martinez, nog ʼn vrou wat in die hof getuig het, het gesê sy is “verlig” deur die beslissing. “Ek is trots op die vroue wat hulle waarhede kon vertel,” het sy bygevoeg.

Regsdokumente het die geestelike lyding waaraan Kelly se slagoffers onderwerp het, uiteengesit. Hulle is nie toegelaat om die badkamer sonder sy toestemming te gebruik nie, hy het beheer watter klere hulle dra en hulle moes hom “Daddy” noem.

Gloria Allred, ʼn prokureur wat verskeie slagoffers verteenwoordig het, het aan verslaggewers gesê: “Ek beoefen die regsberoep al vir 47 jaar. Gedurende dié tyd het ek verskeie sekspeste vervolg wat misdade teen vroue en kinders gepleeg het. Van al die seksuele misdadigers wat ek al vervolg het, is mnr. Kelly die ergste.”

Aanklaer Jacquelyn Kasulis het Maandag tydens ʼn mediakonferensie buite die hof gesê die jurie het ʼn boodskap gestuur aan “magtige” mans soos Kelly.

“Maak nie saak hoe lank dit neem nie, die lang arm van die gereg sal jou inhaal,” het Kasulis gesê.

Die beslissing kom 13 jaar nadat Kelly vrygespreek is op kinderpornografieklagte ná ʼn verhoor in die staat Illinois.

Die meeste van die aantygings wat tydens die verhoor gemaak is, is in 2019 in die dokumentêr Surviving R Kelly weergegee.

Slagoffers is soms uit sy konsertgehore gekies, of is gelok om by hom aan te sluit nadat hy aangebied het om te help met hulle musiekloopbane ná ontmoetings met die sanger.

Nadat hulle egter by sy entourage aangesluit het, was hulle onderhewig aan sy streng reëls en is hulle aggressief gestraf as hulle dié reëls, wat as “Rob’s rules” bekend gestaan het, verontagsaam het.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Onnie ·

Ek is baie bly dat die #metoo veldtog, vroue laat besef dat die manier waarop hulle in die verlede behandel is, nie reg is nie. Nou sal meer “Hollywood helde” sneuwel. Dit is omdat die samelewing van destyds nie sulke gedrag geoordeel het nie, almal het net stilgebly – veral as die persoon ryk en magtig was. Jy het geweet jy staan nie n kans teen iemand met soveel invloed nie. Soos bv. Prins Andrew. Elke hond kry sy dag, en ‘n vark kry ‘n naweek.

Elinette ·

Ag shame, en dan wag die meeste “slagoffers” tien, vyftien, twintig jaar voor hulle verkragting- of seksuele molestasie sake aanhangig maak, nè? Ek erken rondborstig dat “money makes the world go round” en dat sommige pefodiele/verkragters inderdaad met hul wandade wegkom, maar daar is MANIERE en maniere … Mens wag nie tot 30 jaar later of wanneer die persoon wat die wandade na bewering gepleeg het, al oud en dalk sieklik is, voor jy klagtes bring nie.

ES ·

Daar is baie van hierdie bekendes wat skuldig is aan hier donker plesiertjies – maar op die ou einde word hulle gevang en dan boet hulle.

ES ·

Dit is so Andre, maar gelukkig moet die staat hulle saak kan bewys bo redelike twyfel en ek is seker hulle het meer as genoeg bewyse gelewer om sy skuld te kan bewys. Ek is seker sy verdedigingspan is van die beste prokureurs wat geld kan koop – so as hulle hom nie kon red nie moet hy waarlik skuldig wees.

Hendrik Marthinus ·

Die staat maw die landdroste veral vrouens glo Al’s wat die vrou se
As n man is jy altyd skuldig, so die manne moet maar versigtig wees
As die vrou jou nie like nie is jy vinnig in die tronk

JohanR ·

Harvey Weinstein is soos ‘n engel teenoor die siek ou. Vir jare en jare daarmee weggekom, maar sy strot is finaal afgetrap!

Niklaas ·

Jy moet darem ver gaan soek om iets slegters as Harvey te vind. Ek dink Harvey se siek dade kan in honderde getel kan word.

Hendrik Marthinus ·

Stem met jou mnr
Bly maar alleen, dit Bly die beste

Daleen ·

Waar vroue en kinders (en mans) misbruik word het dit NIKS met LEKKERTE te doen nie. SIEK!!!

Andrew ·

Mooi. Volgende op die lys Gates en Clinton. Dan die gesigboek nar hou ook daarvan om saam die klomp te “hang” en van die opinie te wees dat hy is beter is as die peasants. Wonder wat hy naweke doen met sy jets en eilande. Hy en daai pink xxx swietie man het mos al met oorle mnr epstein “gedine”, daar is mos geen wette op mars nie. Birds of a feather flock …..

JohanR ·

Al twee Clinton’s kan toegesluit word. Niemand sal hulle mis nie!

Andrew ·

Ek is van die opinie na hy skuldig bevind is moet al sy toekennings terug getrek word en al sy musiek verban word.

Anoniem ·

Ja né. Dis soos om te jaag op ń snelweg. Mens dink jy weet mos waar al daai lokvalle lê. Maar net eendag word daai wedloop verbreek en sien jy jou bas. Vrygespreek en toe TOG skuldig. Sy “vlerke* uiteindelik geknip.

Kattebol ·

Daar is baie emosionele skade wanneer mense seksueel of andersins misbruik en mishandel word. Dis nie so maklik om net te laat aankla nie. Soms is eksterne faktore van soveel belang dat 20 of 30 jaar tussenin noodsaaklik is sodat daar nie nog méér skade berokken word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.