Regerings gaan dalk vir Twitter moet betaal, sê Musk

Elon Musk (Foto: Ryan Lash / TED Conferences, LLC / AFP)

Die miljardêr Elon Musk het bekendgemaak dat ondernemings en regerings dalk binnekort “ʼn effense koste” gaan moet betaal om Twitter te gebruik, net weke ná hy planne aangekondig het om dié sosialemediaplatform vir $44 miljard te koop.

Musk, ook die uitvoerende hoof van Tesla en SpaceX, het op Twitter bevestig die platform sal altyd gratis bly vir “gewone gebruikers”.

Dis nie duidelik hoeveel ondernemings en regerings sal moet opdok en of sekere groepe soos niewinsgewende organisasies en verslaggewers kwytgeskeld sal wees van enige koste nie. Twitter het nog nie kommentaar gelewer oor Musk se uitlatings nie.

Analiste twyfel egter of Twitter-gebruikers vir premium-inhoud of kenmerke sal wil betaal wanneer ander platforms soos Facebook gratis is. Teen die einde van Maart het ʼn gemiddeld van 229 miljoen mense Twitter daagliks gebruik, ʼn toename van sowat 16% in vergelyking met die eerste drie maande van verlede jaar.

Musk het 90,7 miljoen Twitter-volgelinge en hy het vroeër gesê hy “wil Twitter beter as ooit tevore maak deur die produk te verbeter met nuwe kenmerke”. “Ek wil ook Twitter beter as ooit maak deur die produk met nuwe kenmerke te verbeter, die algoritmes ʼn oopbron-aanbieding te maak om vertroue te versterk, die spambotte [gemorspos] te verslaan en alle gebruikers te verifieer. Twitter het geweldige potensiaal – ek sien uit daarna om saam met die maatskappy en die gemeenskap van gebruikers te werk om dit te ontsluit.”

Aktivistegroepe het Twitter-adverteerders Dinsdag gekontak en versoek om die diens te boikot indien Musk die deure oopmaak vir plasings met skeltaal of vals nuus. “Julle handelsmerke staan die risiko om geassosieer te word met ʼn platform wat haat, ekstremisme, gesondheids-waninligting en samesweringsteorieë aanhits,” lui ʼn ope brief wat deur meer as 24 groepe, insluitend Media Matters, Access Now en Ultraviolet onderteken is.

Die groepe moedig adverteerders aan om te vereis dat Twitter sy inhoud-modereringsbeleide volhou as ʼn nie-onderhandelbare bepaling vir die platform.

Twitter maak gebruik van inkomste deur advertensies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanEtz ·

Aktiviste moet hulle eerder by visvang bepaal – vryheid van spraak vir almal nie net vir sekeres nie asb……

Jean ·

Die mense wat juis nou weg hardloop van Twitter af is die wat net in hulle eie vryheid van spraak glo.

Jacques ·

Ek stem saam het hom: regerings; politieke partye en die nuusmedia behoort te betaal vir toegang vir hulle propaganda, want dit is immers advertensies om opinies en stemme te werf.

Mallie ·

Hy moet weer dink. Dit is nie die regering nie, maar die belastingbetaler wat hiervoor gaan betaal,

Alfred E Neuman ·

En hoekom sou Twitter juis kommentaar lewer, as Musk die baas is. Hy het mos klaar gepraat.

VaalDonkie ·

Nee maar dis reg. Ek wens hom alle voorspoed toe. Mens moet bv R1000 per maand op LinkedIn betaal as jy ‘n “recruiter” is en R100 of R200 as jy die premium pakket met ekstra goedjies wil he. Die res van ons gebruik LinkedIn verniet. Dit werk mooi uit vir almal.

Marthinus W ·

Musk moet maar sy rug beskerm: deur vryheid van spraak te verkondig maak hy sekere persone kriewelrig, soos George Soros, Bill Gates, die ou van Amazon, en regerings wat sensuurbehep is [EU, Londen, Wash, ens.]. Hulle het hul mes in vir hom, want hy kan die narratief verander. Hy sal moet fyn loop.

KatjieDeKat ·

Ja. Soos hulle in Engels se: “Better watch your 6, Elon”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.