Reusestorm op pad na Florida

Miami, Florida. (Foto bloot ter illustrasie / Unsplash / Dylan Sauerwein)

Die orkaan wat sterk op pad na Florida in die VSA is, is nou tot ʼn vlak 3-storm verklaar. Goewerneur Ron De Santis het ʼn noodtoestand in al 67 distrikte in dié deelstaat afgekondig. Die storm sal Florida na verwagting teen Woensdag of Donderdag bereik.

Swaar reën en stormsterkwinde word verwag en die VSA se nasionale orkaansentrum waarsku dat lewensgevaarlike kitsvloede en tornado’s ook kan voorkom. De Santis het Maandag by ʼn nuuskonferensie in Tallahassee gesê dat daar waarskynlik kragonderbrekings sal wees.

CNN berig orkaan Ian het die westelike dele van Kuba Dinsdagoggend genader en is op koers na Florida, waar sommige inwoners van kusgebiede reeds besig is om hul huise te ontruim.

Volgens die VSA se nasionale orkaansentrum, kan storm- en rukwinde ʼn maksimum spoed van tot 185 km per uur bereik.

Weerstoestande in Kuba het Maandagaand vererger, en teen Dinsdagoggend 02:30 plaaslike tyd was die oog van die storm sowat 56 km suid van die stad Pinar del Rio.

Watervlakke kan weens die orkaan tot soveel as 4,2 meter bo normale getyvlakke langs die kus van Kuba styg.

Die sentrum waarsku dat die orkaan na verwagting in ’n noordwestelike rigting oor die eiland sal beweeg en groot verwoesting op sy pad sal saai.

Meer as 50 000 inwoners van Pinar del Rio het na veiliger plekke verskuif, van wie 6 000 nou in staatskuilings gehuisves word.

In Florida is ʼn verpligte ontruimingsbevel Maandag uitgereik vir sekere inwoners in die Hillsborough-distrik, wat aan die mees westelike kant van die Florida-skiereiland geleë is.

NBC News berig noodskuilings is ook in dié distrik opgerig is, insluitend Tampa.

Tornado’s kan moontlik in Florida Keys voorkom, asook in die suidelike en sentrale dele van die Florida-skiereiland.

AFP berig dat De Santis inwoners van Florida versoek het om kos, water, medisyne en brandstof aan te vul. Die goewerneur het ook 7 000 lede van die nasionale wag opgeroep om met dié poging te help.

Owerhede in verskeie Florida-munisipaliteite, waaronder Miami, Fort Lauderdale en Tampa, het begin om gratis sandsakke aan inwoners te versprei wat kan help om hul huise teen oorstromings te beskerm.

Tampa Internasionale Lughawe het gesê dit sal bedrywighede Dinsdag om 17:00 plaaslike tyd opskort.

President Joe Biden het noodhulp aan 24 provinsies in Florida deur die Federal Emergency Management Agency (FEMA) goedgekeur.

NASA het intussen gesê hy rol sy massiewe maanvuurpyl weens die orkaan terug na die monteeraanleg by die Kennedy‑ruimtesentrum in Florida, waar dit weer tydelik gestoor sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Truth2bfree ·

Genugtig USA het deesdae baie storms… en dan is huise plat, kragdrade af, geen water en versekering betaal nie meer uit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.